Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 14:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Wanneer iemand gereinig moet word wat gely het aan 'n velsiekte wat hom onrein maak, moet die volgende voorskrif nagekom word. Hy moet na die priester toe gebring word,

3. maar buite die kampplek. Die priester moet die persoon daar ondersoek. As hy genees is van die velsiekte,

4. moet daar op bevel van die priester twee lewende rein voëls, 'n stukkie sederhout, bloedrooi garing en 'n hisoptakkie gebring word vir die persoon wat gereinig moet word.

5. Op bevel van die priester moet die kop van die een voël afgesny word oor 'n erdebakkie waarin vars water is.

6. Die priester moet dan die lewende voël vat en hom saam met die stukkie sederhout, die bloedrooi garing en die hisoptakkie dompel in die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is oor die bakkie vars water.

7. Hy moet die water met die bloed in sewe maal sprinkel oor die persoon wat gereinig moet word van sy siekte en hom dan rein verklaar. Daarna moet hy die lewende voël in die veld loslaat.

8. Die persoon wat gereinig word, moet sy klere was, al sy hare afskeer en bad. Dan is hy rein en mag hy in die kampplek ingaan, maar hy moet nog 'n week buite sy tent bly.

9. “Op die sewende dag moet hy al sy hare afskeer. Hy moet sy hare, sy baard, sy wenkbroue en al sy liggaamshare afskeer. As hy dan sy klere gewas en hom gebad het, is hy rein en mag hy in sy tent ingaan.

10. “Op die agste dag moet hy twee ramlammers en 'n jaaroud ooilam, almal sonder liggaamsgebrek, 'n graanoffer wat bestaan uit vyf kilogram meel wat met olyfolie aangemaak is, en 'n halwe liter olyfolie na die priester toe bring.

11. Die priester wat die reiniging doen, moet dan die persoon wat gereinig word, saam met sy offergawes bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe, in die teenwoordigheid van die Here.

12. Daarna moet die priester die een ramlam en die halwe liter olie as 'n skuldoffer bring; hy moet dit as 'n beweegoffer vir die Here aanbied.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 14