Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 13:17-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Die priester moet dit ondersoek. As die seerplek inderdaad 'n wit roof gevorm het, moet die priester die persoon rein verklaar. Hy is rein.

18. “As iemand aan sy lyf 'n verswering gehad het wat genees het,

19. en waar die verswering was, kom daar 'n wit swelsel of 'n rooierige seer, moet dit aan die priester gewys word.

20. Die priester moet dit ondersoek. As dit lyk of die kwaad onder die vel is en die hare daarop het wit geword, moet die priester die persoon onrein verklaar. Deur die verswering het daar 'n velsiekte ontstaan wat hom onrein maak.

21. “Maar as die priester die plek ondersoek en sien dat die hare daarop nie wit geword het nie, dat die kwaad nie onder die vel is nie en dat die ontsteking opgeklaar het, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder.

22. As die kwaad dan verder versprei in die vel, moet die priester die persoon onrein verklaar. Hy het 'n seerplek wat hom onrein maak.

23. Maar as die plek onverander bly en die ontsteking het nie versprei nie, is dit maar net die litteken van die verswering. Die priester kan hom dan rein verklaar.

24. “Wanneer iemand 'n brandwond opgedoen het en die rou wond vorm 'n rooierige of 'n wit seer,

25. moet die priester die plek ondersoek. As die hare op die seer wit geword het en die seer lyk dieper as die vel, het deur die brandwond 'n velsiekte ontstaan waardeur die persoon onrein gemaak word. Die priester moet die persoon onrein verklaar. Hy het 'n velsiekte wat hom onrein maak.

26. As die priester by sy ondersoek egter vind dat die hare op die seer nie wit geword het nie, dat die seer nie dieper is as die vel nie en dat die ontsteking opgeklaar het, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder.

27. Op die sewende dag moet die priester die persoon weer ondersoek. As die kwaad verder versprei het in die vel, moet die priester die persoon onrein verklaar. Dit is 'n velsiekte wat hom onrein maak.

28. Maar as die plek onverander bly en die ontsteking het nie in die vel versprei nie maar opgeklaar, is dit die swelsel van die brandwond. Die priester moet hom dan rein verklaar, want dit is maar net die merk van die brandwond.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 13