Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 11:32-47 Afrikaans 1983 (AFR83)

32. Enigiets waarop so 'n dooie diertjie val, is ook onrein. Dit geld vir enige gebruiksartikel van hout, lap, leer of growwe linne, enige gewone gebruiksartikel. Dit moet in water gedruk word, maar is nog vir die res van die dag onrein. Eers daarna is dit rein.

33. As een van die diertjies in 'n kleipot val, is alles wat in die pot is, onrein. Die pot moet dan gebreek word,

34. want enige kos waarby water uit so 'n pot gegooi is, is onrein, en enige vloeistof uit so 'n pot is onrein.

35. Enigiets waarop een so 'n dooie diertjie val, is onrein. 'n Kleioond of kleikookplek moet in so 'n geval afgebreek word; dit het onrein geword, en julle moet dit as onrein beskou.

36. 'n Fontein of opgaardam is wel nie onrein as so 'n dooie diertjie daarin val nie, maar iemand wat aan die diertjie raak, is onrein.

37. As so 'n dooie diertjie op saad val wat gesaai gaan word, word die saad nie onrein nie.

38. As dit egter gebeur wanneer die saad in water lê om te week, is dit onrein.

39. “As enige dier wat julle wel mag eet, vrek, is iemand wat aan die karkas raak, die res van die dag onrein.

40. As iemand van die dooie dier se vleis eet of die karkas dra, moet hy sy klere was, maar self is hy die res van die dag onrein.

41. “Alle klein diertjies wat volop voorkom in die veld, is vir julle verbode:

42. of hulle nou seil of op vier pote loop of baie pote het, julle mag nie een van hulle eet nie, want dit is verbode.

43. Julle moet julle nie besoedel met een van dié diere dat julle onrein word nie.

44. Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig. Julle mag julle nie verontreinig met enige van die kleiner diertjies wat volop voorkom in die veld nie.

45. Ek is die Here wat julle uit Egipte laat trek het sodat Ek julle God kan wees. Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees.

46. “Dit is dan die reëling wat betrekking het op diere en voëls en op alles wat in water lewe en wat op die grond beweeg.

47. Julle moet noukeurig onderskei tussen rein en onrein, tussen diere wat geëet mag word en diere wat nie geëet mag word nie.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 11