Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:28-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

28. Josua het Ai afgebrand en daarvan vir altyd 'n verlate ruïne gemaak. Dit is nou nog so.

29. Hy het die koning van Ai aan 'n boom opgehang en hom daar laat bly tot die aand toe. Toe die son ondergaan, het Josua opdrag gegee, en hulle het die lyk van die boom afgehaal, dit in die stadspoort gegooi en 'n groot hoop klippe daarop gepak, wat vandag nog daar is.

30. Daarna het Josua op Ebalberg 'n altaar gebou vir die Here die God van Israel,

31. soos Moses, die dienaar van die Here, die Israeliete beveel het en soos dit geskryf staan in die wetboek van Moses: “'n altaar van ongekapte klip waarop daar nie 'n ysterwerktuig gebruik is nie.” Hulle het brandoffers vir die Here op die altaar gebring en ook maaltydoffers geoffer.

32. Josua het daar op die klippe 'n afskrif aangebring van die wet van Moses. Hy het dit voor die oë van die Israeliete neergeskrywe.

33. Die hele Israel, sy leiers, sy beamptes en sy regters het daar weerskante van die ark gestaan voor die Levitiese priesters wat die verbondsark van die Here dra. Vreemdelinge sowel as burgers was daar. Een helfte het regoor Gerisimberg gestaan en die ander helfte regoor Ebalberg, soos Moses, die dienaar van die Here, vroeër beveel het toe hy bepaal het dat die volk Israel die seën moet ontvang.

34. Daarna het Josua alles wat die wet sê, die seën sowel as die straf, voorgelees, net soos dit geskryf staan in die wetboek.

35. Daar was nie een woord van alles wat Moses beveel het wat Josua nie voor die hele gemeente van Israel voorgelees het nie. Die vrouens en die kinders en die vreemdelinge wat tussen die Israeliete gebly het, was by.

Lees volledige hoofstuk Josua 8