Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 7:12-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Daarom kan die Israeliete nie teen hulle vyande staande bly nie; hulle vlug vir hulle vyande omdat hulle nou self mense geword het wat vernietig moet word. As julle nie al die gewyde goed tussen julle verwyder nie, sal Ek nie meer by julle bly nie.

13. Staan op, reinig die volk, sê vir hulle: Reinig julle vir môre, want so sê die Here die God van Israel: Daar is gewyde goed tussen julle, Israel. Julle kan nie teen julle vyande staande bly as julle nie die gewyde goed tussen julle verwyder nie.

14. Kom môre nader volgens julle stamme; die stam wat deur die Here aangewys word, moet volgens families nader kom, die familie wat deur die Here aangewys word, moet volgens gesinne nader kom, en die gesin wat deur die Here aangewys word, moet man vir man nader kom.

15. Die man wat gevang word met die gewyde goed, moet verbrand word, hy en al sy mense, want hy het die verbond van die Here verbreek en 'n roekelose sonde in Israel begaan.”

16. Josua het die môre vroeg opgestaan en Israel volgens stamme laat nader kom. Die stam Juda is aangewys.

17. Toe hy die families uit Juda laat nader kom, is die Seragfamilie aangewys, en toe hy die Seragfamilie man vir man laat nader kom, is Sabdi aangewys.

18. Toe hy die gesin van Sabdi man vir man laat nader kom, is Akan seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die Judastam aangewys.

19. Josua het vir Akan gesê: “My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en doen belydenis voor Hom. Sê my wat jy gedoen het, moet dit nie vir my wegsteek nie.”

20. Toe sê Akan vir Josua: “Dit is waar. Ek het gesondig teen die Here die God van Israel. Wat ek gedoen het, is dit:

21. ek het onder die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook sowat twee kilogram silwer en 'n staaf goud van meer as 'n halwe kilogram; ek wou dit baie graag hê en ek het dit gevat. Dit is in die grond in my tent begrawe. Die silwer is heel onder.”

22. Josua het mense gestuur, en hulle het na die tent toe gehardloop en daar kry hulle toe die goed in Akan se tent, die silwer onder.

23. Hulle het die goed uitgehaal en na Josua en al die Israeliete toe gebring. Toe hulle dit daar voor die Here uitskud,

24. vat Josua en die hele Israel saam met hom vir Akan seun van Serag en bring hom na die Akorlaagte toe, en ook die silwer, die klere en die staaf goud, Akan se seuns en dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent, alles wat aan hom behoort.

Lees volledige hoofstuk Josua 7