Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 2:6-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Sy het die twee manne intussen op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlasstoppels wat sy daar oopgesprei het.

7. Die koning se manne het na die twee verkenners gaan soek op die pad na die Jordaan toe, in die driwwe se rigting. Nadat die agtervolgers weg is agter die verkenners aan, is die stadspoort gesluit.

8. Voor die verkenners aan die slaap geraak het, is die vrou na hulle toe op die dak

9. en het sy vir hulle gesê: “Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe van vrees vir julle.

10. Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het met julle trek uit Egipte, en ook wat julle met die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, met Sihon en Og, gedoen het, hoe julle hulle voor die voet uitgeroei het.

11. Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.

12. “Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my 'n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel, en gee my 'n betroubare aanduiding

13. dat julle my pa en ma, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, se lewens sal spaar en ons so van die dood sal red.”

14. Toe sê die manne vir haar: “Ons staan met ons eie lewe in vir julle s'n. As julle nie oor ons praat nie en die Here gee ons die land, sal ons jou goed behandel en ons woord hou.”

Lees volledige hoofstuk Josua 2