Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 10:31-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

31. Van Libna af is Josua, met die hele Israel by hom, na Lakis toe. Hy het sy manskappe teen die stad ontplooi en dit aangeval.

32. Die Here het Lakis in die mag van Israel oorgegee, en Israel het die stad na twee dae ingeneem en al wat leef daarin doodgemaak, net soos hy met Libna gedoen het.

33. Toe koning Horam van Geser vir Lakis te hulp snel, het Josua hom en sy manskappe ook verslaan. Niemand het vrygekom nie.

34. Van Lakis af is Josua, met die hele Israel by hom, na Eglon toe. Hy het sy manskappe teen die stad ontplooi en dit aangeval.

35. Hulle het die stad nog dieselfde dag ingeneem en al wat leef daarin doodgemaak. Josua het die hele stad uitgeroei, net soos hy met Lakis gedoen het.

36. Van Eglon af het Josua, met die hele Israel by hom, teen Hebron opgetrek en die stad aangeval.

37. Hulle het die stad ingeneem en die koning, die inwoners van al die buitedorpe en al wat in die stad leef, doodgemaak. Niemand het ontkom nie. Soos Josua met Eglon gedoen het, het hy ook Hebron en al wat daarin leef, uitgeroei.

38. Daarna het Josua, met die hele Israel by hom, na Debir toe gedraai en die stad aangeval.

39. Hy het dit ingeneem, die koning en die inwoners van die buitedorpe doodgemaak en al die mense in die stad uitgeroei. Niemand het ontkom nie. Soos hy met Hebron en met Libna en sy koning gedoen het, het hy ook met Debir en sy koning gedoen.

40. Josua het die hele gebied platgeloop, die Bergland, die Suidland, die Laeveld, die Hange, al die konings daar. Hy het niemand laat vrykom nie. Hy het alles wat asem het, uitgeroei, soos die Here die God van Israel beveel het.

41. Josua het hulle platgeloop van Kades-Barnea af tot by Gasa, ook die hele Gosengebied en tot by Gibeon.

Lees volledige hoofstuk Josua 10