Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 52:8-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. maar die Galdese leër het vir koning Sedekia agtervolg en hom ingehaal op die Jerigovlakte. Sy hele leër was toe al uitmekaar gejaag, weg van hom af,

9. en hy is gevang en na die koning van Babel toe gevat in Ribla, in Hamat. Die koning van Babel het vir Sedekia verhoor

10. en toe sy seuns voor sy oë laat doodmaak. Hy het ook al die Judese amptenare laat doodmaak daar in Ribla,

11. Sedekia se oë laat uitsteek, hom met bronskettings laat boei en hom na Babel toe gevat en daar in die tronk laat sit tot sy dood toe.

12. In die vyfde maand, op die tiende van die maand, in die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel, het Nebusaradan by Jerusalem aangekom. Hy was hoof van die lyfwag en in die persoonlike diens van die koning van Babel.

13. Hy het die huis van die Here, die paleis en al die huise in Jerusalem, elke groot gebou, afgebrand.

14. Al die Galdese soldate wat onder sy bevel was, het die muur om Jerusalem heeltemal afgebreek.

15. Party van die armste mense, en verder die mense wat in die stad oor was, ook dié wat na die koning van Babel toe oorgeloop het, en die ambagsmanne wat oor was, is gevange weggevoer deur Nebusaradan, die hoof van die lyfwag.

16. Party van die armste mense van die land het hy laat agterbly om die wingerde en die lande te bewerk.

17. Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die huis van die Here was, stukkend geslaan en al die brons na Babel toe gevat.

18. Hulle het die potte, die skoppe, die skêre, die komme vir besprinkeling en die panne saamgevat, en al die ander bronsgoed wat in die tempeldiens gebruik is.

19. Die hoof van die lyfwag het die bakke, die vuurpanne, die komme vir besprinkeling, die potte, die kandelare, die panne, die offerkomme, alles wat goud of silwer was, buitgemaak.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 52