Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 52:17-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die huis van die Here was, stukkend geslaan en al die brons na Babel toe gevat.

18. Hulle het die potte, die skoppe, die skêre, die komme vir besprinkeling en die panne saamgevat, en al die ander bronsgoed wat in die tempeldiens gebruik is.

19. Die hoof van die lyfwag het die bakke, die vuurpanne, die komme vir besprinkeling, die potte, die kandelare, die panne, die offerkomme, alles wat goud of silwer was, buitgemaak.

20. Die brons van die twee pilare, van die waterbak met die twaalf beeste onder, en van die waentjies wat koning Salomo gemaak het vir die huis van die Here was soveel dat dit nie geweeg kon word nie.

21. Wat betref die pilare, elke pilaar was nege meter hoog en ses meter in die omtrek en was hol met 'n wand van nege sentimeter dik.

22. Die bronskapiteel bo-op was twee en 'n half meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was heeltemal van brons. Die ander pilaar met die granate was net so.

23. Daar was ses en negentig granate sigbaar, maar daar was altesaam honderd granate rondom aan die rooster.

24. Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en die drie drumpelwagte gevange saamgevat.

25. Uit die stad het hy die offisier gevange geneem wat in bevel was van die soldate. Daar was ook nog sewe van die koning se vertrouelinge in die stad, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en sestig van die burgers.

26. Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babel toe in Ribla gevat.

27. Die koning van Babel het hulle laat doodmaak daar in Ribla, in Hamat.So is Juda dan uit sy land uit weggevoer.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 52