Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 44:19-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Die vrouens het bygevoeg: “Dink jy ons het sonder die medewete van ons mans vir die hemelkoningin wierookoffers gebring en drankoffers uitgegiet en vir haar offerkoekies gebak wat soos sy lyk?”

20. Toe sê Jeremia vir al die mense, vir die mans en die vrouens, vir almal wat hom so geantwoord het:

21. “Het die Here nie juis gedink aan die wierookoffers wat julle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gebring het nie, julle en julle voorvaders, julle konings en julle amptenare, het Hy nie juis dít in ag geneem nie?

22. Hy kon julle gruweldade, die afskuwelike dinge wat julle gedoen het, nie langer verdra nie. Daarom het julle land 'n puinhoop geword, iets wat mense met afgryse vervul en wat as voorbeeld genoem word wanneer mense ander iets slegs toewens, 'n land sonder inwoner, soos dit vandag is.

23. Dit is omdat julle die wierookoffers gebring het en teen die Here gesondig het, omdat julle ongehoorsaam was aan die Here en nie geleef het volgens sy wet, sy voorskrifte en sy verordeninge nie, dat die ramp julle getref het soos dit vandag is!”

24. Jeremia het verder vir al die mense, ook vir al die vrouens, gesê: Hoor die woord van die Here, alle Judeërs in Egipte!

25. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle en julle vrouens het gedoen wat julle beloof het. Julle het gesê julle sal bly by julle belofte om vir die hemelkoningin wierookoffers en drankoffers te bring. Hou by julle belofte, hou daarby, doen wat julle beloof het, doen dit!

26. Maar hoor die woord van die Here, alle Judeërs wat in Egipte woon: Ek lê 'n eed af by my groot Naam: Nooit sal my Naam weer deur 'n enkele Judeër genoem word nie, niemand van julle almal in Egipte sal weer sê: “So seker as die Here my God leef” nie.

27. Ek sal noulettend na julle kyk, ten kwade, nie ten goede nie, en elke Judeër in Egipte sal omgebring word: deur oorlog, deur hongersnood, totdat daar niemand oor is nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 44