Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 44:13-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Ek sal dié wat in Egipte woon, straf soos Ek dié in Jerusalem gestraf het: met oorlog, met hongersnood, met pes.

14. Daar sal nie een vrykom van dié wat van Juda oor is en wat in Egipte gaan woon het nie, nie een om na Juda toe terug te gaan nie, hoe hulle ook daarna verlang om terug te gaan en daar te gaan woon. Hulle sal nie teruggaan nie, nie vrykom nie.

15. Die mans, wat almal geweet het dat hulle vrouens vir ander gode offer, en al die vrouens wat teenwoordig was, 'n hele menigte, trouens, almal wat daar in Egipte in Patros gewoon het, het toe vir Jeremia gesê:

16. “Ons gaan nie luister na wat jy vir ons sê in die Naam van die Here nie.

17. Ons sal bly doen wat ons beloof het: ons sal vir die hemelkoningin wierookoffers bring en drankoffers uitgiet net soos ons, ons voorvaders, ons konings en ons amptenare in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gedoen het. Ons het daardie tyd genoeg te eet gehad, ons was voorspoedig, en geen ramp het ons getref nie.

18. Dit is vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin wierookoffers te bring en drankoffers uit te giet dat ons aan alles gebrek het en dat ons sterf deur oorlog en deur hongersnood.”

19. Die vrouens het bygevoeg: “Dink jy ons het sonder die medewete van ons mans vir die hemelkoningin wierookoffers gebring en drankoffers uitgegiet en vir haar offerkoekies gebak wat soos sy lyk?”

20. Toe sê Jeremia vir al die mense, vir die mans en die vrouens, vir almal wat hom so geantwoord het:

21. “Het die Here nie juis gedink aan die wierookoffers wat julle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gebring het nie, julle en julle voorvaders, julle konings en julle amptenare, het Hy nie juis dít in ag geneem nie?

22. Hy kon julle gruweldade, die afskuwelike dinge wat julle gedoen het, nie langer verdra nie. Daarom het julle land 'n puinhoop geword, iets wat mense met afgryse vervul en wat as voorbeeld genoem word wanneer mense ander iets slegs toewens, 'n land sonder inwoner, soos dit vandag is.

23. Dit is omdat julle die wierookoffers gebring het en teen die Here gesondig het, omdat julle ongehoorsaam was aan die Here en nie geleef het volgens sy wet, sy voorskrifte en sy verordeninge nie, dat die ramp julle getref het soos dit vandag is!”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 44