Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 44:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die woord van die Here wat gekom het tot Jeremia vir al die Judeërs wat in Egipte gewoon het, in Migdol, in Tagpanges, in Memfis en in die Patrosstreek:

2. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle het gesien watter rampe Ek alles oor Jerusalem en al die stede van Juda gebring het; hulle is vandag puinhope en daar woon niemand in hulle nie.

3. Dit het gebeur omdat julle en julle voorvaders gesondig het en My in my eer gekrenk het toe julle vir ander gode wierookoffers gebring en hulle gedien het, gode van wie julle nie voorheen geweet het nie.

4. Ek het my dienaars die profete almal na julle toe gestuur, vroeg en laat, en vir julle gesê: Moenie die afskuwelike dinge doen nie. Ek haat dit.

5. Maar julle het nie geluister nie, nie gehoor gegee en julle van julle sonde bekeer en opgehou om wierookoffers vir ander gode te bring nie.

6. Daarom het my gramskap en my toorn ontvlam. Dit het gebrand in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, en die stede het puinhope geword, verlate soos hulle vandag is.

7. So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: Waarom bring julle die groot ramp oor julleself, oor elke man en vrou, elke kind en suigling uit Juda, sodat daar niks van julle oor is nie?

8. Julle tart My met wat julle doen, julle offer aan ander gode hier in Egipte waar julle kom woon het. So roei julle julleself uit en sal die mense op die hele aarde julle name as voorbeelde gebruik wanneer hulle mekaar iets slegs wil toewens of wil verneder.

9. Het julle vergeet van die sonde wat julle voorvaders en die konings van Juda en hulle vrouens gedoen het en wat julle self en julle vrouens gedoen het in Juda en op die strate van Jerusalem?

10. Julle het tot vandag toe nie berou daaroor nie, julle het nog nie eerbied vir My nie, julle leef nog nie volgens my wet en my voorskrifte wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 44