Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 40:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die woord wat van die Here af tot Jeremia gekom het nadat die hoof van die lyfwag Nebusaradan hom in Rama vrygelaat het. Nebusaradan het vir Jeremia laat uithaal tussen die gevangenes van Jerusalem en Juda wat as ballinge op pad was na Babel toe. Jeremia was met kettings geboei.

2. Die hoof van die lyfwag het vir Jeremia laat haal en vir hom gesê: “Die Here jou God het gesê hierdie ramp sal oor hierdie plek kom,

3. en Hy het dit laat gebeur soos Hy gesê het. Omdat julle gesondig het en ongehoorsaam was aan Hom, daarom het dié ramp julle getref.

4. Maar ek gaan nou die kettings aan jou hande losmaak. As jy wil, kom saam met my na Babel toe, ek sal vir jou sorg. As jy nie met my wil saamkom Babel toe nie, ook goed. Die hele land is tot jou beskikking. Jy kan gaan waar jy dit goedvind, waar dit jou pas.”

5. Nog voordat Jeremia kon antwoord, het Nebusaradan verder gesê: “Of gaan na Gedalja toe, seun van Agikam seun van Safan, wat deur die koning van Babel in bevel geplaas is van die stede van Juda. Bly by hom tussen jou mense, of gaan waar dit jou ook al pas.”Die hoof van die lyfwag het vir Jeremia kos en geskenke gegee en hom laat gaan.

6. Jeremia is toe na Gedalja seun van Agikam toe in Mispa. Hy het daar by hom gaan bly tussen die mense wat in die land oor was.

7. Die bevelhebbers van die Israelitiese soldate wat nog in die veld was en hulle manskappe het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja seun van Agikam in bevel van die land geplaas het en dat hy die mans, vrouens en kinders wat van die armstes in die land was en wat nie na Babel toe verban is nie, aan Gedalja se sorg toevertrou het.

8. Die bevelhebbers en hulle manskappe is toe ook na Gedalja toe in Mispa. Onder hulle was Ismael seun van Netanja, Joganan en Jonatan seuns van Kareag, Seraja seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa, en Jaäsanja seun van iemand uit Maäka, hulle met hulle manskappe.

9. Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, het die manne met 'n eed die versekering gegee dat hulle nie bang hoef te wees om hulle aan die Galdeërs te onderwerp nie: “Bly in die land en onderwerp julle aan die koning van Babel, dit sal goed gaan met julle.

10. Ek gaan hier in Mispa bly om tot beskikking te wees van die Galdeërs wat hier na ons toe kom. Julle kan wyn, vrugte en olie bymekaarmaak en bêre en in die dorpe gaan woon wat julle beset.”

11. Al die Judeërs wat in Moab en tussen die Ammoniete en in Edom en in ander lande was, het gehoor dat die koning van Babel party mense in Juda laat bly het en dat hy vir Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, in bevel geplaas het oor hulle.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 40