Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 35:4-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. en hulle na die huis van die Here toe gebring na die kamer van die seuns van Ganan die man van God en seun van Jigdalja. Die kamer was langs dié van die amptenare wat bokant dié van die deurwagter Maäseja seun van Sallum was.

5. Ek het kanne vol wyn en bekers voor die Rekabiete gesit en vir hulle gesê: “Hier is wyn, drink dit.”

6. Maar hulle het geantwoord: “Ons drink nie wyn nie, want ons voorvader Jonadab seun van Rekab het ons beveel: ‘Julle mag nooit wyn drink nie, nie julle nie en ook nie julle kinders nie.

7. Julle mag ook nie huise bou of graan saai of wingerde aanlê nie. Julle mag dit nie doen nie, want julle moet altyd in tente woon sodat julle lank kan bly woon in die land waar julle vreemdelinge is.’

8. Ons was gehoorsaam aan alles wat ons voorvader Jonadab seun van Rekab ons beveel het. Ons het nooit wyn gedrink nie, nie ons nie, nie ons vrouens nie, ook nie ons seuns en dogters nie.

9. Ons het nie huise gebou om in te woon nie en ons het nog nooit 'n wingerd of saaigrond gehad nie.

10. Ons het in tente gebly. Ons was gehoorsaam aan alles wat ons voorvader Jonadab ons beveel het, ons het dit gedoen.

11. Net nou dat koning Nebukadnesar van Babel die land binnegeval het, het ons gesê: ‘Kom ons gaan na Jerusalem toe om weg te kom van die leër van die Galdeërs en dié van die Arameërs af.’ En nou bly ons in Jerusalem.”

12. Die woord van die Here het toe tot Jeremia gekom:

13. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Gaan sê vir die mense van Juda en vir die inwoners van Jerusalem: Sal julle dan nooit leer om na my woord te luister nie? vra die Here.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 35