Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 31:8-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Ek laat kom hulle uit die land in die noorde,Ek vergader hulle van die uithoeke van die aarde af:onder hulle is blindes en kreupeles,swanger vrouens en vrouens in kraam.'n Groot gemeente sal hiernatoe terugkom.

9. In trane sal hulle kom, met smeekgebede,maar Ek sal hulle lei,Ek sal hulle by waterstrome bring,op 'n gelyk pad, niemand sal struikel nie,want Ek het Israel se Vader geword,Efraim is my eersgeborene.

10. Hoor die woord van die Here, nasies,vertel dit aan die verste eilande!Julle moet sê:Hy wat vir Israel verstrooi het, sal hom bymekaarmaak.Die Here sal hom oppas soos 'n wagter sy trop skape oppas.

11. Die Here het vir Jakob bevry,hulle gered uit die mag van een wat sterker as hulle is.

12. Hulle sal kom en op die Sionshoogte sing,hulle sal straal van blydskap oor die goeiewat deur die Here gegee word:oor koring, wyn en olie,oor die aanteel van kleinvee en grootvee.Hulle sal floreer soos 'n tuin wat goed natgelei word,hulle sal nie meer na water smag nie.

13. Dan sal die jong meisies dans van blydskapsaam met die jong mans en die ou mans.Ek sal hulle droefheid in vreugde verander,Ek sal vir hulle uitkoms gee:Ek sal hulle bly maak,hulle sal geen kommer meer hê nie.

14. Ek sal 'n oorvloed goeie kos vir die priesters gee,my volk sal oorgenoeg hê aan die goeie wat Ek gee, sê die Here.

15. So sê die Here:'n Gekerm word op Rama gehoor,'n gehuil vol hartseer:Ragel treur oor haar kinders,sy wil haar nie laat troos nie,want haar kinders is weg.

16. So sê die Here: Bly stil, moenie huil nie,moenie trane in jou oë hê nie!Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word,sê die Here,jou kinders sal uit die vyand se land terugkom.

17. Daar is 'n toekoms vir jou nageslag, sê die Here,jou kinders sal na hulle besitting toe terugkom.

18. Ek het duidelik gehoor hoe Efraim kla:“U het my gestraf,ek is ingebreek soos 'n kalf wat mak gemaak is.Bring my terug na U toe dat ek my kan bekeer,want U is die Here my God.

19. Ek het weggedwaal, maar ek het berou gehad,ek het tot insig gekom en myself vol berou op die heupe geslaan,ek het my geskaam, ek het skande oor my gebring,ek is verneder oor die sondes van my jeug af.”

20. Efraim is nie my troetelkind nie,'n kind in wie Ek My verlustig nie,en tog, elke keer as Ek hom bestraf,dink Ek met hartseer aan homen is Ek ontstel oor hom,want Ek het hom baie lief,sê die Here.

21. Rig vir jou padwysers op,bring vir jou rigtingborde aan,hou jou oog op die grootpad,op die pad wat jy moet loop.Kom terug, Israel,kom terug na jou stede toe.

22. Hoe lank gaan jy nog talm,jy wat so dikwels jou eie koers gaan?Die Here skep iets nuuts in jou land:Israel sal die Here liefhê.

23. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel:Wanneer Ek hulle lot verander,sal hulle weer in Juda en in sy stede sê:Die Here sal jou seën, regmatige woonplek,heilige berg!

24. Mense sal saam woon in Juda en in sy stede,boere en veewagters wat rondtrek.

25. Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is,Ek maak die moedelose weer vol moed.

26. Dit is waarom Ek ingryp:Ek het alles gesien,Ek sal nie terugkom op my besluit nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 31