Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 29:18-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Ek sal die volk agtervolg met oorlog en met hongersnood en met pes. Ek maak hulle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik: onder al die nasies waaronder Ek hulle sal verstrooi, sal hulle naam gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, wil beledig of wil verneder.

19. Hulle het nie na my waarskuwings geluister toe Ek my dienaars die profete vroeg en laat na hulle toe gestuur het nie, sê die Here. Julle ballinge het ook nie geluister nie, sê die Here.

20. Hoor die woord van die Here, al julle ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel toe weggestuur het!

21. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel, vir Agab seun van Kolaja en vir Sedekia seun van Maäseja wat sonder opdrag in my Naam as julle profete optree: Ek sal hulle oorgee in die mag van koning Nebukadnesar van Babel, en hy sal hulle voor julle oë om die lewe bring.

22. En hulle name sal as 'n vervloeking gebruik word deur al die Joodse ballinge in Babel, wat sal sê: “Mag die Here jou maak soos Sedekia en soos Agab vir wie die koning van Babel verbrand het.”

23. Hulle het 'n afskuwelike ding in Israel gedoen: hulle het gehoereer met hulle bure se vrouens en ook vals in my Naam gepraat terwyl Ek hulle nie 'n opdrag gegee het nie. Ek weet dit, Ek is getuie daarvan, sê die Here.

24. Vir Semaja die Negelamiet moet jy sê:

25. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Jy het op eie houtjie na die hele volk in Jerusalem briewe gestuur en ook na die priester Sefanja seun van Maäseja en na al die ander priesters toe en geskryf:

26. “Die Here het jou as priester aangestel in die plek van die priester Jojada sodat jy kan toesig hou oor die huis van die Here. Jy moet elke malle wat as profeet optree, in die blok en in die nekyster sit.

27. Waarom het jy nie nou vir Jeremia die man uit Anatot wat vir julle as profeet optree, tereggewys nie?

28. Daarom het hy die boodskap hier na ons toe in Babel gestuur: die ballingskap sal nog lank aanhou. Bou huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan.”

29. Maar die priester Sefanja het hierdie brief vir die profeet Jeremia voorgelees,

30. en toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom:

31. Stuur hierdie boodskap na al die ballinge toe. So sê die Here vir Semaja die Negelamiet: Omdat Semaja vir julle as profeet opgetree het hoewel Ek hom nie gestuur het nie, en hy julle op 'n leuen laat staatmaak het,

32. daarom, so sê die Here, sal Ek vir Semaja die Negelamiet straf en ook sy nageslag. Hy sal geen familielid onder hierdie volk oorhê nie en hy sal nie deel in die goeie wat Ek vir my volk sal doen nie, sê die Here. Hy het opstand teen My gepreek.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 29