hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 9 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die tyd van afrekening het gekom

1. Staak jou feeste, Israel! Hou op om fees te vier soos die ander nasies! Jy was ontrou aan jou God. Jy was daarop uit om met jou tempelprostitusie op elke plek waar koring gedors word, groter oeste te probeer kry.

2. Maar die dorsvloer en parskuip sal julle nie voed nie, en geen wyn sal daar uitgetrap word nie.

3. Julle sal nie in die land van die Here bly nie, Efraim sal na Egipte toe teruggaan, en in Assirië sal hulle onrein kos moet eet.

4. Hulle sal nie wyn uitgiet as drankoffers vir die Here nie, hulle sal geen offers aan Hom bring nie. Hulle kos sal so onrein wees soos kos uit 'n sterfhuis. Almal wat dit eet, sal onrein word, want hulle sal dit moet eet sonder dat dit in die huis van die Here gewy is.

5. Hoe gaan julle die feestyd, die groot fees van die Here deurbring?

6. Dié wat die verwoesting ontvlug, sal in Egipte bymekaargemaak en in Memfis begrawe word. Waar hulle silwerskatte begrawe lê, en in hulle woonplekke, sal onkruid en dorings groei.

7. Die tyd van straf het aangebreek! Die tyd van afrekening het gekom! Israel sal dit besef.Is die profeet dwaas? Is die man wat deur die Gees in besit geneem is, waansinnig? Hy is so omdat jou sonde so groot is en omdat jy so vyandig is teen hom.

Die profeet is deur God gestuur

8. Die profeet is deur God gestuur om oor Efraim wag te hou, maar oral waar die profeet gaan, probeer hulle hom vastrek. Die vyandigheid hou nie eens in die huis van sy God op nie.

9. Net soos in die tyd van Gibea is daar nie 'n einde aan hulle slegte dade nie. Die Here sal hulle sonde teen hulle hou, Hy gaan hulle laat boet vir hulle oortredings.

Hulle sal swerwelinge word onder die nasies

10. Israel was vir My soos druiwe waarop 'n mens in die woestyn afkom. Ek het in julle voorouers die belofte gesien wat die heel eerste vrug aan 'n jong vyeboom inhou. Maar hulle het na Baäl-Peor toe gegaan en hulle verbind aan 'n god wat vir hulle in die steek laat, en hulle het net so afstootlik geword soos die ding wat deur hulle vereer is.

11. Soos 'n voël wegvlieg, so sal Efraim se mag verdwyn: daar sal geen geboortes, geen swangerskappe en geen bevrugtings meer wees nie.

12. En as hulle die kinders wat hulle reeds het, probeer grootmaak, sal Ek hulle heeltemal kinderloos maak, daar sal geen kind oorbly nie. Daar wag vir hulle ook ellende wanneer Ek hulle verlaat.

13. Efraim was vir My soos 'n jong palmboom wat in vrugbare grond groei. Maar dieselfde Efraim sal sy kinders moet uitlewer aan die moordenaar!

14. Gee aan hulle, Here, wat U wil, gee hulle kinderlose baarmoeders en borste sonder melk.

15. Al hulle boosheid het by Gilgal begin. Ja, daar het Ek hulle al gehaat oor hulle goddelose dade. Ek sal hulle uit my huis wegjaag, Ek sal hulle nie meer liefhê nie. Al hulle leiers is in opstand teen My.

16. Efraim is dodelik getref. Sy wortels het verdroog, hy kan nie meer enige vrugte dra nie. Ook al bring Efraim kinders in die wêreld, sal Ek die kinders laat sterf vir wie hulle so lief is.

17. My God het hulle verwerp omdat hulle nie na Hom geluister het nie: hulle sal swerwelinge word onder die nasies.