hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 7 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Terwyl Ek die lot van my volk wil verander, terwyl Ek bereid is om Israel te herstel, kom die oortreding van Efraim en die sonde van Samaria aan die lig. Hulle belieg mekaar, hulle breek in en steel, hulle beroof mekaar op straat.

2. Hulle dink nie eens daaraan dat Ek al hulle sonde ken nie. Nou het hulle optrede hulle ingehaal, dit lê oop en bloot voor My.

Rebellie teen die koning

3. Met hulle bose optrede en met hulle slinkse planne stel hulle die koning en sy amptenare tevrede;

4. hulle is die een so onbetroubaar soos die ander. Hulle is soos 'n oond wat aanhou smeul wanneer die bakker ophou stook terwyl hy die deeg knie en daarna wag dat dit moet rys:

5. by die fees van die vorige koning het hulle sy amptenare papdronk gemaak en was sy raadgewers onder die invloed van drank.

6. Terwyl die rebelle die koning gehuldig het, het die verraad in hulle gesmeul soos 'n oond, deur die nag was hulle drif sluimerend, teen die môre het dit opgevlam.

7. Hulle was almal soos 'n oond wat brand: so het hulle hulle regeerders verteer en het al hulle konings tot 'n val gekom. Maar nie een van hulle vra ooit na my wil nie.

Efraim vra nie na die wil van die Here nie

8. Efraim is tussen die nasies, maar hy word self geknie. Efraim het soos 'n askoek geword wat verbrand het.

9. Vreemdes het sy krag verteer, maar hy besef dit nie! Hy het muf geraak soos ou brood, maar hy besef dit nie.

10. Israel se hoogmoed getuig teen hom. Hulle het nie teruggekeer na My, die Here hulle God, nie en het te midde van dit alles nie na my wil gevra nie.

11. Efraim het geword soos 'n duif: dom en sonder verstand. Hulle het vir Egipte gekoer, maar Assirië toe gevlieg.

12. Maar elke keer as hulle daarheen gaan, sal Ek my vangnet oor hulle gooi; Ek sal hulle soos voëls neertrek, Ek sal hulle vastrek sodra Ek die gedruis van die swerm hoor.

13. Ellende wag vir hulle omdat hulle van My af wegvlug! Daar wag teëspoed vir hulle omdat hulle teen My in opstand is! Ek was bereid om hulle te red, maar hulle lieg vir My.

14. Toe hulle na My om hulp geroep het, het dit nie uit die hart gekom nie, want hulle lê op hulle beddens en kerm en sny hulleself stukkend ter wille van koring en wyn. Hulle verset hulle teen My

15. alhoewel Ek hulle gewaarsku het. Toe Ek hulle gehelp het, het hulle opstand beplan teen My

16. en hulp gesoek by wat nie kon help nie. Hulle het so nutteloos geword soos 'n slap boog. Hulle leiers sal met die swaard afgemaai word, hulle sal die slagoffers word van die vervloeking wat hulle oor hulleself uitgespreek het as hulle aan my verbond ongehoorsaam sou wees. En Egipte sal daaroor lag.