hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Israel is vals

1. Israel was 'n welige wingerdstok. Sy vrugte was geil. Hoe meer vrugte hy gedra het, hoe beter is daar vir die altare gesorg. Hoe beter dit met die land gegaan het, hoe mooier is die klippilare gemaak.

2. Hulle is vals wanneer hulle hulle sonde bely. Maar die Here sal hulle altare afbreek, Hy sal hulle klippilare verwoes.

3. Hulle sê: “Ons het nie 'n koning nie, want ons het nie die Here gedien nie. Maar wat sou 'n koning in elk geval vir ons kon doen?”

4. Hulle praat net, hulle maak vals beloftes, hulle sluit verdrae. En intussen is hulle regspraak soos gifplante wat in die vore langs die land groei.

5. Die inwoners van Samaria is bekommerd oor die goue kalf van Bet-Awen. Sy vereerders treur oor hom en sy priesters kerm oor hom. Hulle kerm oor sy rykdom wat van hom weggeneem is.

6. Maar hy gaan self ook nog na Assirië toe gevat word as 'n geskenk vir koning Jareb. Efraim sal teleurgestel word, Israel sal daar bedroë van afkom met sy planne en al.

7. Wanneer Samaria verwoes word, sal sy koning meegesleur word soos 'n stuk dryfhout op die water.

8. Die hoogtes waar Israel gesondig en oortree het, sal woes word. Dorings en bossies sal groei waar die altare gestaan het. Dan sal Israel vir die berge sê: “Val ons toe!” en vir die heuwels: “Val op ons!”

9. Die sonde van Israel kom uit die tyd van Gibea. Hulle het daarmee volhard. Die oorlog teen hierdie opstandige volk sal hulle in Gibea tref.

10. Ek het besluit Ek sal hulle straf. Die nasies sal teen hulle versamel word omdat hulle met hulle twee groot sondes volhard het.

11. Efraim was 'n mak vers wat daarvan gehou het om graan uit te trap. Toe Ek sien dat sy reeds sterk genoeg is, wou Ek haar inspan. Juda sou ploeg en Jakob sou eg.

12. Ek het gesê: “Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle 'n nuwe land! Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet.”

13. Maar julle het sonde ingeploeg en julle het vyandskap geoes. Julle het die vrug van julle valsheid geëet.Omdat jy vertrou op jou eie planne en op jou baie soldate,

14. sal oorlog teen jou volk losbreek en sal al jou vestingstede verwoes word. Soos Salman vir Bet-Arbel verwoes het toe moeders en kinders saam in die veldslag verpletter is,

15. so sal hy met julle maak in Bet-El oor julle afskuwelike sonde. Met die eerste lig sal die koning van Israel al dood wees.