hoofstukke

  1. 1
  2. 2

Ou Testament

Nuwe Testament

Haggai 1 Afrikaans 1983 (AFR83)

Herbou my huis

1. Die woord van die Here het deur die profeet Haggai gekom tot Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en tot die hoëpriester Jesua seun van Josadak. Dit was op die eerste dag van die sesde maand in die tweede regeringsjaar van koning Darius.

2. So sê die Here die Almagtige: Hierdie volk sê dit is nie nou die tyd om die tempel te herbou nie.

3. Toe het die woord van die Here weer deur die profeet Haggai gekom:

4. Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê?

5. Daarom, so sê die Here die Almagtige: Neem ter harte wat met julle gebeur.

6. Julle het baie gesaai, maar min geoes;julle het geëet, maar nie genoeg gekry nie;julle het gedrink, maar dors gebly;julle het klere aangetrek, maar nie warm geword nie;julle is soos 'n dagloner wat sy loonin 'n stukkende beursie steek.

7. So sê die Here die Almagtige: Neem ter harte wat met julle gebeur.

8. Gaan haal hout in die berg en herbou my huis sodat Ek my eer kan ontvang en tevrede kan wees, sê die Here.

9. Julle het 'n groot oes verwag, maar min gekry, en wat julle nog huis toe gebring het, het Ek laat verdwyn. Waarom? vra die Here die Almagtige. Omdat my huis in puin lê, terwyl elkeen van julle hard besig is om aan sy eie huis te werk.

10. Dit is oor julle dat die hemel sy reën en die aarde sy opbrengs teruggehou het.

11. Ek het droogte laat kom oor die land en oor die berge, oor die koring, die wyn en die olie en oor die opbrengs van die land, oor mens en dier en oor alles waarmee die mens hom besig hou.

12. Toe het Serubbabel seun van Sealtiël, en die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en almal wat van die volk oorgebly het, ter harte geneem wat die Here hulle God gesê het, wat die profeet Haggai in opdrag van die Here hulle God gesê het. Die volk was vervul met ontsag vir die Here.

13. Haggai die boodskapper van die Here het in opdrag van die Here vir die volk gesê: Ek is by julle, sê die Here.

14. Die Here het toe vir Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het, aangevuur, en hulle het die werk aan die huis van hulle God, die Here die Almagtige, aangepak.

15. Hulle het daarmee begin op die vier en twintigste van die sesde maand.