Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 43:8-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Juda het vir sy pa Israel gesê: “Stuur tog maar die kind saam met my sodat ons dadelik kan vertrek. Dan kan ons aan die lewe bly. So nie sterf Pa saam met ons en ons kinders.

9. Ek waarborg hy sal terugkom. Pa kan hom van my eis. As ek hom nie vir Pa terugbring en hom hier voor Pa kom laat staan nie, sal ek vir altyd by Pa in die skuld wees.

10. En as ons nie so getalm het nie, kon ons nou al twee keer terug gewees het.”

11. Toe sê hulle pa Israel vir hulle: “Nou ja, as dit dan so is, moet julle dit maar doen. Vat van die beste wat ons land het saam in julle graansakke as 'n geskenk vir die man: 'n bietjie balsem, 'n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels.

12. Julle moet die geld verdubbel wat julle saamvat. En die geld wat julle bo in die graansakke teruggebring het, moet julle ook saamvat. Dalk was daar 'n misverstand.

13. Vat julle broer en maak klaar en gaan terug na die man toe.

14. God die Almagtige sal sorg dat die man julle goedgesind is en julle ander broer terugstuur en ook vir Benjamin. En ek, as ek dan my kinders moet verloor, moet ek hulle maar verloor.”

15. Die manne het toe die geskenk gevat en hulle het die geld wat hulle saamgevat het, verdubbel. Hulle het vir Benjamin gevat en klaargemaak en Egipte toe gegaan. Hulle het by Josef gekom,

16. en toe hy sien Benjamin is by hulle, sê hy vir sy hoofamptenaar: “Vat die manne na my huis toe. Laat slag en laat 'n ete voorberei, want hulle moet vanmiddag by my eet.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 43