Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 43:3-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Juda het hom geantwoord: “Daardie man het ons nadruklik gewaarsku en vir ons gesê: ‘Julle kom nie weer hier by my sonder julle broer nie!’

4. As Pa instem en ons broer saam met ons stuur, sal ons vir Pa gaan kos koop.

5. Maar as Pa nie instem om hom saam te stuur nie, sal ons nie gaan nie, want daardie man het vir ons gesê ons kom nie weer by hom sonder ons broer nie.”

6. Toe sê Israel: “Waarom het julle my hierdie onreg aangedoen en vir die man vertel julle het nog 'n broer!”

7. Hulle het gesê: “Die man het ons uitgevra na ons familie. Hy het gevra: ‘Leef julle pa nog? Het julle nog 'n broer?’ Ons het net geantwoord op hierdie vrae van hom. Hoe moes ons weet hy sou sê: ‘Bring julle broer hiernatoe’?”

8. Juda het vir sy pa Israel gesê: “Stuur tog maar die kind saam met my sodat ons dadelik kan vertrek. Dan kan ons aan die lewe bly. So nie sterf Pa saam met ons en ons kinders.

9. Ek waarborg hy sal terugkom. Pa kan hom van my eis. As ek hom nie vir Pa terugbring en hom hier voor Pa kom laat staan nie, sal ek vir altyd by Pa in die skuld wees.

10. En as ons nie so getalm het nie, kon ons nou al twee keer terug gewees het.”

11. Toe sê hulle pa Israel vir hulle: “Nou ja, as dit dan so is, moet julle dit maar doen. Vat van die beste wat ons land het saam in julle graansakke as 'n geskenk vir die man: 'n bietjie balsem, 'n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels.

12. Julle moet die geld verdubbel wat julle saamvat. En die geld wat julle bo in die graansakke teruggebring het, moet julle ook saamvat. Dalk was daar 'n misverstand.

13. Vat julle broer en maak klaar en gaan terug na die man toe.

Lees volledige hoofstuk Genesis 43