Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het.

2. Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob.Josef was nog jonk, sewentien, toe hy kleinvee opgepas het saam met sy broers, die seuns van Bilha en Silpa, sy pa se vrouens. Josef het slegte stories oor sy broers by hulle pa aangedra.

3. Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak.

4. Toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle 'n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie.

5. Op 'n keer het Josef gedroom en dit vir sy broers vertel. Daarna was hulle afkeer van hom nog groter.

6. Hy het vir hulle gesê: “Luister na die droom wat ek gehad het. Ons was op die land besig om gerwe te bind

7. en skielik gaan staan my gerf regop en julle gerwe gaan staan daar rondom en hulle buig voor myne.”

8. Toe sê sy broers vir hom: “Jy verbeel jou jy sal oor ons koning word. Dink jy dalk jy sal oor ons regeer?”Oor sy drome en sy praatjies het hulle 'n nog groter afkeer van hom gekry.

9. Hy het ook nog 'n ander droom gehad en hy het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf sterre het voor my kom buig.”

10. Toe hy dit vir sy pa en sy broers vertel, het sy pa hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir 'n soort droom is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor jou kom buig?”

11. Sy broers was afgunstig op hom, en sy pa het aan die droom bly dink.

12. Josef se broers het hulle pa se kleinvee gaan oppas in Sigem.

13. Toe sê Israel vir Josef: “Kyk, jou broers pas die kleinvee op in Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.”Josef het geantwoord: “Goed, Pa!”

14. Toe sê Israel vir hom: “Gaan kyk of alles nog reg is by jou broers en met die kleinvee en kom vertel my alles.”Israel het hom van die laagte by Hebron af gestuur na Sigem toe.

15. Hy het daar in die veld rondgesoek, en toe kom 'n man by hom en dié vra vir hom: “Wat soek jy?”

16. Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. Kan jy my dalk sê waar hulle die kleinvee oppas?”

Lees volledige hoofstuk Genesis 37