Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 29:2-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Hy het onverwags uitgekom by 'n put in die veld waar drie troppe kleinvee lê. Die wagters het die kleinvee by hierdie put laat suip. Daar was 'n groot klip op die bek van die put,

3. en wanneer al die veetroppe daar bymekaar is, rol die wagters die klip weg en dan gee hulle vir die vee water. Daarna sit hulle weer die klip terug op sy plek op die bek van die put.

4. Jakob het hulle gevra: “Van waar is julle, my vriende?” Hulle het geantwoord: “Ons is van Haran.”

5. Toe vra hy vir hulle: “Ken julle vir Laban uit die geslag van Nahor?” en hulle antwoord: “Ons ken hom.”

6. Hy vra hulle toe: “Hoe gaan dit met hom?” en hulle antwoord: “Goed, hier kom sy dogter Ragel nou net aan met die kleinvee.”

7. Toe sê Jakob: “Die son sit nog hoog en dis nog nie tyd om die kleinvee in die kraal te jaag nie. Laat hulle suip en vat hulle om te wei.”

8. Maar die wagters antwoord: “Ons kan hulle nie laat suip voor al die troppe hier bymekaar is nie. Dan word die klip van die bek van die put afgerol en laat ons die vee suip.”

9. Terwyl hy nog met hulle staan en praat, kom Ragel daar aan met haar pa se kleinvee. Sy het hulle opgepas.

10. Toe Jakob vir Ragel, die dogter van sy ma se broer Laban, sien met haar pa se kleinvee, het Jakob nader gekom en die klip van die put af weggerol en Laban se kleinvee laat suip.

11. Daarna het Jakob vir Ragel gesoen en toe het hy begin huil.

12. Nadat hy vir haar gesê het hy is familie, Rebekka se seun, het sy gehardloop en dit vir haar pa gaan vertel.

13. Toe hy hoor dat Jakob sy susterskind is, het hy na hom toe gehardloop, hom omhels en gesoen. Laban het hom na sy huis toe gevat, en toe vertel Jakob hom alles.

14. Laban het geantwoord: “Dis reg. Jy is bloedfamilie!”Nadat Jakob 'n maand lank by hom gebly het,

15. het Laban vir Jakob gesê: “Jy is familie, maar dit beteken nie dat jy vir my verniet moet werk nie. Sê vir my wat moet ek jou betaal.”

16. Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel.

17. Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon.

18. Jakob het haar liefgehad en hy het vir Laban gesê: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir u jongste dogter Ragel.”

19. Toe sê Laban: “Goed! Ek sal haar liewer met jou laat trou as met enige ander man. Bly hier by my.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 29