Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 26:19-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Isak se slawe het 'n put gegrawe in die spruit en sterk water gekry.

20. Toe stry die skaapwagters van Gerar met dié van Isak en sê: “Dié water behoort aan ons.”Isak het toe die put “Rusie” genoem, omdat hulle daar met hom rusie gemaak het.

21. Sy slawe het 'n ander put gegrawe, en ook daaroor het die Filistyne klagtes gehad, en toe noem Isak dit “Klagte”.

22. Van daar af het hy versit en 'n ander put gegrawe, en hulle het nie daaroor gestry nie. Toe noem hy die put “Ruimte“ “want,” het hy gesê, “nou het die Here vir ons ruimte gemaak en in dié land sal ons voorspoedig wees.”

23. Van daar af het Isak na Berseba toe getrek,

24. en die nag toe hy daar kom, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou seën en jou 'n groot nageslag gee ter wille van my dienaar Abraham.”

25. Isak het daar 'n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep. Isak het sy tente daar opgeslaan, en sy slawe het 'n put gegrawe.

26. Toe kom Abimelek uit Gerar saam met Agussat sy vertroueling en Pikol die bevelvoerder van sy leër na Isak toe,

27. en Isak sê vir hulle: “Waarom kom julle na my toe? En dit nogal nadat julle my onvriendelik behandel het en my van julle af weggestuur het!”

28. Hulle het geantwoord: “Ons het baie duidelik gesien die Here is by jou. Ons wil onder eed 'n ooreenkoms met jou aangaan. Ons wil 'n verdrag met jou sluit

29. dat jy ons nie sleg sal behandel nie, net soos ons jou nie benadeel het nie. Ons het net goed aan jou gedoen en jou sonder enige skade van ons af laat weggaan. Dit is so: jy word deur die Here geseën.”

30. Isak het toe vir hulle 'n maaltyd klaargemaak en hulle het geëet.

Lees volledige hoofstuk Genesis 26