Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:42-50 Afrikaans 1983 (AFR83)

42. “Toe ek vandag by die fontein kom, het ek gebid: Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat my tog slaag in my onderneming.

43. Hier staan ek by die fontein waar 'n jongmeisie van die stad sal kom water skep. Ek sal vir haar vra om my 'n bietjie water uit haar kruik te laat drink,

44. en as sy vir my sê: ‘Drink gerus maar, en ek sal vir jou kamele ook water skep,’ is sy die vrou wat deur U gekies is vir die seun van my eienaar.

45. “Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met 'n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog 'n bietjie water!’

46. Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee.

47. Ek het haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy het geantwoord: ‘Die dogter van Betuel seun van Nahor en Milka.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms.

48. Ek het gekniel en tot die Here gebid. Ek het Hom, die God van Abraham wie se slaaf ek is, geloof omdat Hy my reg gelei het om die dogter van die broer van my eienaar te kry as vrou vir sy seun.

49. “As u nou u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan. As u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai, waarheen ook al.”

50. Toe antwoord Laban en Betuel: “Wat gebeur het, is van die Here. Ons het vir jou daaroor niks te sê nie.

Lees volledige hoofstuk Genesis 24