Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 38:12-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. ek gaan hulle plunder en hulle besittings buit. Jy sal besluit om 'n aanval te maak op die puinhope wat weer bewoon word, die mense wat tussen die nasies uit versamel is en weer vee en besittings het en op die middelpunt van die aarde woon.

13. Skeba, Dedan en die handelaars van Tarsis en sy buitedorpe sal vir jou vra: ‘Het jy gekom om te plunder? Het jy jou leërmag bymekaargemaak om oorlogsbuit te kry, om silwer en goud weg te dra, om vee en besittings te vat? Is jy op 'n groot plundertog uit?’

14. “Tree op as profeet, mens, en sê vir Gog: So sê die Here my God: Jy sal weet wanneer my volk sonder kommer oor hulle veiligheid in die land woon,

15. en dan sal jy uit jou land ver in die noorde kom met die baie manskappe wat tot jou beskikking is, almal ruiters te perd, 'n groot mag, 'n magtige leër.

16. Jy sal op my volk Israel toesak soos 'n wolk wat die land bedek. Dit sal in die verre toekoms wees dat Ek jou my land sal laat aanval en wanneer Ek jou, Gog, laat ervaar dat Ek die heilige God is, sal die nasies My erken.”

17. So sê die Here my God: “Dit is jy oor wie Ek lank gelede gepraat het deur my dienaars die profete van Israel. Hulle het daardie tyd aangekondig dat Ek jou my volk sal laat aanval.

18. “Maar,” sê die Here my God, “die dag wanneer Gog die land Israel aanval, sal my toorn teen hom losbreek.

19. Ek sê dit met drif, in gloeiende gramskap: daardie dag sal daar 'n groot aardbewing kom in die land Israel.

20. Die visse in die see, die voëls in die lug, die diere in die veld, al die diertjies wat op die grond rondkruip en al die mense in die land, sal voor My bewe. Die berge sal omgekeer word, die kranse sal inmekaarstort, die mure in die land sal omval.

21. Ek sal op al my berge oorlog teen Gog uitroep, sê die Here my God; Gog se manskappe sal mekaar met die swaard aanval.

22. Ek sal hom tref met pes en dood, Ek sal wolkbreuke, hael en brandende swael op hom laat reën en op sy hordes en op die baie manskappe wat tot sy beskikking is.

23. Ek sal My voor die oë van al die nasies laat ken as die groot en die heilige God, en hulle sal besef dat Ek die Here is.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 38