Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:49-63 Afrikaans 1983 (AFR83)

49. Die Here sal van ver af 'n nasie teen jou laat opruk. Hy sal van die uithoeke van die aarde af kom, vinnig soos 'n arend wat vlieg. Dit sal 'n nasie wees wie se taal jy nie verstaan nie,

50. 'n wrede nasie deur wie niemand, oud of jonk, ontsien word nie, 'n nasie sonder genade.

51. Hy sal die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land opeet totdat hy jou uitgeroei het. Hy sal nie vir jou koring of wyn of olie laat oorbly nie, ook nie van die aanteel van jou grootvee en jou kleinvee nie. Jou vyand sal dit doen totdat hy jou ondergang bewerk het.

52. “Hy sal jou in al jou stede beleër totdat jou hoë stadsmure en jou vestings waarop jy staatmaak, dwarsdeur jou land afgebreek is. Hy sal jou beleër in al die stede van jou hele land wat deur die Here jou God aan jou gegee is.

53. Wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry, sal jy die vleis van jou eie kinders eet, jou seuns en dogters wat deur die Here jou God aan jou gegee is.

54. Selfs die sagste en mees verfynde man by jou sal niks omgee vir sy broer of sy lieflingvrou of sy kind wat nog lewe nie.

55. Hy sal vir nie een van hulle die vleis van sy eie kinders gee wat hy eet nie, want dan hou hy niks vir homself oor nie. Dit is wat sal gebeur wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry in al jou stede.

56. Die sagste en mees verfynde vrou by jou wat nie eers sal probeer om 'n voet op die grond te sit nie, so verfyn en sag is sy, sal vir haar man vir wie sy lief is, of vir haar seun of haar dogter niks omgee nie. Sy sal hulle nie laat eet

57. van die nageboorte of van die vleis van haar kinders wat sy in die wêreld gebring het nie. Sy sal alles in die geheim opeet, so honger sal sy wees. Dit sal gebeur wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry in al jou stede.

58. “Sorg dat jy lewe volgens al die bepalings van hierdie wet wat in hierdie boek opgeteken is, dat jy eerbied betoon aan die Here jou God, Hy aan wie se Naam eer en ontsag toekom.

59. As jy dit nie doen nie, sal Hy ontsettende rampe oor jou en jou nageslag bring, groot en langdurige rampe, kwaadaardige en ongeneeslike siektes.

60. Hy sal al die siektes van Egipte oor jou bring, alles waarvoor jy bang is, en hulle sal ongeneeslik wees.

61. Die Here sal ook al die siektes en rampe wat nie in hierdie wetboek genoem is nie, oor jou laat kom totdat Hy jou uitgeroei het.

62. “Julle was so baie soos die sterre aan die hemelruim, maar daar sal net 'n klompie van julle oorbly omdat jy nie die Here jou God gehoorsaam het nie.

63. “Soos die Here jou God Hom oor julle verbly het toe Hy aan julle goed gedoen en julle baie gemaak het, so sal Hy Hom verbly wanneer Hy julle tot niet maak en julle uitroei. Julle sal uitgeruk word uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28