Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 24:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Wanneer 'n man met 'n vrou trou, kan dit gebeur dat hy haar nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het. Dan mag hy 'n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur.

2. Sy kan dan uit sy huis uit gaan en met 'n ander man trou.

3. As haar tweede man haar ook later nie meer liefhet nie en 'n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur, of as haar tweede man sterf,

4. mag haar eerste man wat haar weggestuur het, nie weer met haar trou nie. Sy is verontreinig, en as hy weer met haar trou, sal dit vir die Here iets afskuweliks wees. Jy mag nie die land wat die Here jou God vir jou as besitting sal gee, onder jou sonde laat ly nie.”

5. “Wanneer 'n man pas getroud is, mag hy nie saam met die leër optrek om te gaan oorlog maak nie. Hy mag ook nie met enige verpligting belas word nie. 'n Jaar lank moet hy van alles vrygestel wees om sy vrou met wie hy getroud is, gelukkig te maak.

6. “Jy mag nie iemand se twee maalklippe as pand neem nie, selfs nie die boonste maalklip nie, want dan vat jy sy daaglikse brood as pand.

7. “Wanneer dit ontdek word dat iemand sy broer, 'n mede-Israeliet, gesteel het en hom as slaaf gebruik of verkoop het, moet die dief sterf. Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.

8. “Jy moet versigtig wees as melaatsheid jou tref. Jy moet versigtig wees en presies doen wat die Levitiese priesters jou voorhou. Ek het hulle alles beveel, en jy moet versigtig wees en dit doen.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 24