Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 2:16-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. “Toe al daardie weerbare manne onder die volk uitgesterf het,

17. het die Here vir my gesê:

18. Jy staan op die punt om deur die Moabiete se gebied by Ar te trek,

19. en jy sal naby die grens van die Ammoniete kom. Moet hulle nie aanval en teen hulle oorlog maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir jou as besitting gee nie. Ek het dit vir die nageslag van Lot gegee as besitting.”

20. Die gebied is beskou as die land van die Refaïete, want hulle het vroeër hier gewoon. Die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem.

21. Hulle was 'n groot en sterk volk, net sulke groot mense as die Enakiete. Die Here het die Samsummiete voor die Ammoniete uit verdryf, en die Ammoniete het hulle verslaan en in hulle gebied gaan woon.

22. Die Here het dieselfde gedoen vir die nageslag van Esau wat in Seïr woon. Die Here het die Goriete voor hulle uit verdryf, en toe het die Edomiete hulle verslaan en in hulle gebied gaan woon. Die Edomiete woon nou nog daar.

23. Die Awwiete wat in dorpies tot by Gasa woon, is verdryf deur mense wat uit Kaftor gekom het en in die Awwiete se gebied gaan woon het.

24. “Die Here het vir my gesê: ‘Breek kamp af en trek deur die Arnonkloof. Ek gee die Amoriet, koning Sihon van Gesbon, en sy land in jou mag. Begin nou, neem sy land in besit, maak oorlog teen hom.

25. Vandag bring Ek skrik en vrees vir jou oor al die volke op die aarde. Wanneer hulle hoor wat jy doen, sal hulle bewe en bang wees vir jou.’

26. “Uit die Kedemotwoestyn het ek boodskappers na koning Sihon van Gesbon toe gestuur. Ek het 'n vredesvoorstel gemaak en laat weet:

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 2