Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 2:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Later het ons die woestyn ingetrek, al met die Rietseepad soos die Here my beveel het. Dit het ons lank gevat om óm Seïrberg te trek.

2. Toe het die Here vir my gesê:

3. ‘Julle het nou ver genoeg om hierdie berg getrek. Draai nou noord

4. en sê vir die volk: Julle staan op die punt om deur die gebied te trek van julle broers, die nageslag van Esau wat in Seïr woon. Hulle is bang vir julle, maar julle moet julle bedwing.

5. Moenie oorlog teen hulle maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir julle gee nie, nie eers 'n handbreedte nie, want Ek het Seïrberg vir Esau gegee as besitting.

6. Die kos en water wat julle nodig het, moet julle by hulle koop.’

7. “Die Here julle God het julle voorspoedig gemaak in alles wat julle gedoen het. Hy het sy oog oor julle gehou in hierdie groot woestyn, en in hierdie hele veertig jaar was die Here julle God by julle en het julle niks kortgekom nie.

8. “Ons het toe verbygetrek by ons broers, die nageslag van Esau wat in Seïr woon, en ons het uit die Woestynpad weggedraai by Elat en Esjon-Geber en met die pad na die Moabwoestyn toe verbygetrek.

9. Toe het die Here vir my gesê: ‘Moenie die Moabiete aanval en teen hulle oorlog maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir jou as besitting gee nie. Ek het Ar vir die nageslag van Lot gegee as besitting.’ ”

10. Die Emiete het voorheen in die gebied gewoon. Hulle was 'n groot en sterk volk. Net soos die Enakiete was hulle groot mense.

11. Die Moabiete het hulle Emiete genoem, maar net soos die Enakiete is hulle as Refaïete beskou.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 2