Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 19:6-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. As die pad na so 'n stad toe te lank sou wees, sou dit kon gebeur dat 'n familielid wat in sy woede die ander se dood wil wreek, die man wat hom doodgemaak het, agtervolg en inhaal en doodmaak al is daar nie 'n misdaad gepleeg wat die dood verdien nie: daar was mos nie voorheen vyandskap tussen hulle nie.

7. Dit is waarom ek jou beveel om drie stede uit te sonder.

8-9. Maar as die Here jou God die grondgebied uitbrei soos Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het en Hy gee die hele land wat Hy aan hulle beloof het aan jou, moet jy nog drie stede by die eerste drie voeg. Die Here sal jou gebied uitbrei omdat jy hierdie hele wet wat ek jou vandag gee, gehoorsaam deurdat jy die Here jou God liefhet en altyd volgens sy wil lewe.

10. Daar mag nie onskuldige bloed vergiet word in die land wat die Here jou God aan jou as besitting sal gee nie, want dan sal daar bloedskuld op jou rus.

11. “Wanneer daar vyandskap is tussen 'n man en sy buurman, en hy lê sy buurman voor en pak hom en slaan hom dat hy sterf, en die man vlug dan na een van hierdie stede toe,

12. moet die leiers van sy stad hom van daar af laat haal en hom oorgee in die mag van die familielid wat die ander se dood wil wreek, en die familielid mag hom doodmaak.

13. Jy mag hom nie genade betoon nie. Jy moet uit Israel uitroei dié wat onskuldige bloed vergiet, dan sal dit met jou goed gaan.”

14. “Jy mag nie jou buurman se grenslyne verskuif nie. Dit is grenslyne wat voorheen deur die voorgeslag vasgestel is vir die eiendom wat jy sal besit in die land wat die Here jou God jou as besit sal gee.”

15. “Daar mag nie net een persoon teen iemand getuig nie, al was die oortreding of die misdaad ook wat, al het hy ook hoe verkeerd gehandel. 'n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 19