Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 19:3-8-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. as stede waarheen iemand kan vlug as hy 'n ander doodgemaak het. Jy moet die land wat die Here jou God aan jou as besitting gee, in drie streke verdeel sodat die stede maklik bereikbaar is.

4. Iemand mag na een van die stede toe vlug om te bly lewe as hy 'n ander doodgemaak het sonder voorbedagte rade en sonder dat daar voorheen vyandskap tussen hulle was.

5. Wanneer iemand byvoorbeeld saam met sy buurman na 'n bos toe gaan om hout te kap en hy swaai die byl in sy hand om 'n boom te kap, en die byl skram weg van die boom af en tref die buurman sodat hy sterf, mag so 'n persoon na een van die drie stede toe vlug om te bly lewe.

6. As die pad na so 'n stad toe te lank sou wees, sou dit kon gebeur dat 'n familielid wat in sy woede die ander se dood wil wreek, die man wat hom doodgemaak het, agtervolg en inhaal en doodmaak al is daar nie 'n misdaad gepleeg wat die dood verdien nie: daar was mos nie voorheen vyandskap tussen hulle nie.

7. Dit is waarom ek jou beveel om drie stede uit te sonder.

8-9. Maar as die Here jou God die grondgebied uitbrei soos Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het en Hy gee die hele land wat Hy aan hulle beloof het aan jou, moet jy nog drie stede by die eerste drie voeg. Die Here sal jou gebied uitbrei omdat jy hierdie hele wet wat ek jou vandag gee, gehoorsaam deurdat jy die Here jou God liefhet en altyd volgens sy wil lewe.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 19