Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 12:2-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. “Vernietig elke plek waar die nasies vir wie julle gaan verdryf, hulle gode gedien het: op hoë berge, op heuwels en onder elke groen boom.

3. Breek hulle altare af, breek hulle klippilare stukkend, verbrand hulle gewyde pale, vernietig hulle afgodsbeelde en verwyder elke teken van hulle bestaan uit die land uit.

4. Julle mag nie die Here julle God dien op die manier waarop ander nasies hulle gode dien nie.

5. Julle moet na die wil van God gaan vra op die plek wat die Here julle God sal kies uit al julle stamgebiede om sy Naam daar te vestig en daar te woon. Daarheen moet julle gaan

6. en julle brandoffers en ander offers bring, ook julle tiendes en ander bydraes, julle gelofteoffers en vrywillige offers, die eerstelinge van julle groot- en kleinvee.

7. Daar in die teenwoordigheid van die Here julle God moet julle en julle families saam eet en bly wees oor alles wat julle reggekry het deurdat die Here julle God julle voorspoedig gemaak het.

8. Moenie doen soos ons nou hier doen deurdat elkeen aanbid waar hy wil nie,

9. want julle het nog nie gekom by die rusplek, die besitting wat die Here julle God vir julle sal gee nie.

10. Maar julle sal deur die Jordaan trek en gaan woon in die land wat die Here julle God julle sal laat besit en daar sal julle rus hê van al julle vyande in die omgewing en daar sal julle veilig woon.

11. Daar is die plek wat die Here julle God sal kies om sy Naam daar te laat woon en daarheen moet julle al die offers bring soos ek julle beveel het: julle brandoffers en ander offers, julle tiendes en ander bydraes, en al die gelofteoffers wat julle aan die Here beloof het.

12. Daar moet julle en julle kinders en julle slawe en slavinne daarvan geniet in die teenwoordigheid van die Here julle God, ook die Leviete wat by julle woon, want hulle het nie 'n deel van die land as besitting saam met julle gekry nie.

13. “Moenie julle brandoffers sommer op enige plek offer wat vir julle goed lyk nie.

14. Julle mag dit net offer op die plek wat die Here sal kies in die gebied van een van die stamme. Daar moet julle julle brandoffers offer en daar moet julle alles doen wat ek julle beveel het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 12