Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 32:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Na dié gebeure, waarin Hiskia sy trou betoon het, het koning Sanherib van Assirië op die toneel gekom. Hy het Juda ingeval en die vestingstede beleër met die bedoeling om deur hulle verdediging te breek.

2. Toe Hiskia hoor van die koms van Sanherib en dat hy op oorlog teen Jerusalem uit is,

3. het hy in oorleg met sy amptenare en offisiere besluit om die water van die fonteine wat buite die stad was, af te sny. Hulle het met hom saamgestem,

4. en 'n groot klomp mense het bymekaargekom en al die fonteine en ook die watervoor wat deur die omgewing geloop het, toegegooi. Hulle het gesê: “Hoekom moet die konings van Assirië baie water kry as hulle hier kom?”

5. Hiskia het al die mure wat afgebreek was, herbou, die forte hoër gebou, nog 'n muur buite-om opgetrek en die terras by die Dawidstad laat versterk. Hy het ook 'n groot klomp spiese en skilde laat maak.

6. Nadat hy bevelhebbers oor die volksleër aangewys het, het hy hulle by hom laat bymekaarkom op die plein by die stadspoort en hulle moed ingepraat:

7. “Wees sterk, wees dapper, moenie bang wees nie, moenie skrik vir die koning van Assirië en die menigte by hom nie. By ons is meer as by hom.

8. By hom is menslike mag, by ons is die Here ons God wat ons sal help en ons oorlog sal veg.”Die manskappe was bemoedig deur dié woorde van koning Hiskia van Juda.

9. 'n Tyd daarna het koning Sanherib van Assirië, wat toe met sy hele krygsmag by Lakis was, van sy ondergeskiktes na Jerusalem toe gestuur met 'n boodskap vir koning Hiskia van Juda, en vir al die mense van Juda in Jerusalem. Die boodskap het gelui:

10. “So sê koning Sanherib van Assirië: Op wie steun julle dat julle in Jerusalem in die vesting bly?

11. Hiskia sê: ‘Ons God sal ons red van die koning van Assirië,’ maar mislei hy julle nie, sodat julle van honger en dors sal sterwe?

12. Dit is mos dié Hiskia wat die hoogtes en die altare van julle God verwyder het en vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet by net een altaar aanbid en offers bring.’

13. Julle weet mos wat ek en my voorvaders aan al die volke in ander lande gedoen het. Kon die gode van die nasies in daardie lande hulle lande red uit my mag?

14. Wie van al die gode van daardie nasies wat al deur my voorvaders uitgeroei is, kon sy volk red uit my mag? Kan júlle God julle dan red uit my mag?

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 32