Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 23:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In die sewende jaar het Jojada besluit om op te tree. Hy het 'n paar bevelhebbers oor honderd in sy vertroue geneem: Asarja seun van Jerogam, Ismael seun van Joganan, Asarja seun van Obed, Maäseja seun van Adaja, en Elisafat seun van Sikri.

2. Hulle het in Juda rondgegaan en die Leviete uit al die stede van Juda bymekaargemaak, en ook die familiehoofde van Israel. Almal is na Jerusalem toe,

3. en daar het die hele gemeente in die tempel 'n verbond met koning Joas gesluit. Jojada het vir hulle gesê: “Die seun van koning Ahasia moet koning word volgens die belofte van die Here oor die nageslag van Dawid.

4. Dit is julle opdragte: 'n derde van julle, van dié wat op die sabbat diens doen as priesters en Leviete, moet drumpelwagte wees;

5. 'n derde moet by die paleis wees, en die ander derde by die Fondamentpoort. Al die ander mense moet in die voorhof van die huis van die Here wees.

6. Niemand mag in die huis van die Here ingaan nie behalwe die priesters en die Leviete wat daar diens doen. Húlle kan ingaan, want hulle is daartoe gewy. Al die ander mense moet hulle aan die bepalings van die Here hou.

7. Die Leviete moet om die koning wees, elkeen met sy wapen in sy hand. Enigiemand anders wat in die tempel wil ingaan, moet doodgemaak word. Bly by die koning, oral waar hy gaan.”

8. Die Leviete en die hele Juda het alles gedoen wat die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manne geneem, dié wat op die sabbat diens moes doen sowel as dié wat klaar was met hulle diens, want die priester Jojada het nie die priesterafdelings laat verdaag nie.

9. Daarna het Jojada die spiese en die groot skilde en die klein ronde skilde wat nog aan koning Dawid behoort het en in die tempel van God was, aan die bevelhebbers oor honderd uitgedeel.

10. Hy het al die manne, elkeen met sy spies in die hand, om die koning laat staan, naby die altaar en die tempel, van die suidekant tot by die noordekant van die tempel.

11. Toe bring hulle die seun van die koning vorentoe en kroon hom en oorhandig aan hom die koninklike volmag. So het hulle hom koning gemaak. Jojada en sy seuns het hom gesalf en geroep: “Lank lewe die koning!”

12. Atalia het gehoor hoe die mense hardloop en die koning huldig, en het ook na die huis van die Here toe gegaan waar hulle was.

13. Daar sien sy toe die koning staan op sy plek by die ingang, en die volksleiers en die trompetblasers by hom, en al die burgers van die land wat juig en trompette blaas, en die sangers met hulle musiekinstrumente wat die jubelsang lei. Toe skeur Atalia haar klere en skreeu: “Verraad! Verraad!”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 23