Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 9:9-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Ek sal met die huis van Agab maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat, en soos met die huis van Baesa seun van Agija.

10. Die honde sal vir Isebel opvreet op die oop stuk grond in Jisreël; sy sal nie begrawe word nie.”Die profeet het toe die deur oopgemaak en gevlug.

11. Toe Jehu uit die kamer uit terugkom by die amptenare van die koning, het hulle vir hom gevra: “Is alles reg? Hoekom het hierdie mal man na jou toe gekom?”Hy het hulle geantwoord: “Julle ken tog self die man en sy praatjies.”

12. Hulle antwoord toe: “Onsin! Toe, vertel ons.”Hy het gesê: “Dit is wat die man vir my gesê het: So sê die Here: Ek salf jou tot koning oor Israel.”

13. Onmiddellik het elkeen sy klere gevat en dit op die trappe voor Jehu oopgegooi. Hulle het die ramshoring geblaas en uitgeroep: “Jehu is koning!”

14-15. Jehu seun van Josafat, seun van Nimsi, het met hulle saamgesweer teen koning Joram van Israel. Hy was toe in Jisreël waar hy gaan herstel het van die wonde wat die Arameërs hom toegedien het toe hy teen koning Gasael van Aram geveg het. Dit het gebeur terwyl Joram en die Israeliete besig was om Ramot in Gilead te verdedig teen koning Gasael van Aram.Jehu het gesê: “As julle aan my kant is, sorg dat niemand wegkom uit Ramot uit om die nuus in Jisreël te gaan vertel nie.”

16. Daarna het Jehu op sy wa geklim en Jisreël toe gery waar Joram siek gelê het en koning Ahasia van Juda vir Joram gaan besoek het.

17. Waar die wag op die toring in Jisreël gestaan het, het hy Jehu se aanhangers sien aankom. Hy het opgemerk: “Ek sien 'n klomp mense.”Toe sê Joram: “Beveel 'n ruiter om hulle tegemoet te ry en te vra of hulle in vrede kom.”

18. Die perderuiter het Jehu tegemoet gegaan en gesê: “Die koning vra of jy in vrede kom.”Jehu het geantwoord: “Wat maak dit saak of ek in vrede kom? Sluit by my aan.”Die man het laat weet: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie.”

19. Koning Joram stuur toe 'n tweede perderuiter. Toe hy by hulle kom, sê hy: “Die koning vra of jy in vrede kom?”Jehu het geantwoord: “Wat maak dit saak of ek in vrede kom? Sluit by my aan.”

20. Die wag het laat weet: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie. Die een wat die wa dryf, moet Jehu seun van Nimsi wees, want hy dryf soos 'n mal mens!”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 9