Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 9:21-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Koning Joram van Israel het toe opdrag gegee: “Span die wa in.”Hulle het sy wa ingespan en hy het opgeklim. Koning Ahasia van Juda het op sy eie wa geklim. Hulle het na Jehu toe gery en by hom gekom by die stuk grond van Nabot die Jisreëliet.

22. Toe Joram vir Jehu sien, vra hy: “Kom jy in vrede, Jehu?”Maar hy antwoord: “Wat? Vrede? Met al hierdie hoerery en toordery van jou ma Isebel se afgodsdiens?”

23. Toe Joram die wa ompluk om te vlug, skree hy vir Ahasia: “Verraad, Ahasia!”

24. Jehu het sy boog gespan en Joram tussen die blaaie getref. Die pyl is deur sy hart; daar op sy wa het hy inmekaargesak.

25. Jehu het sy adjudant Bidkar beveel: “Tel hom op en gooi hom op die stuk grond van Nabot die Jisreëliet. Onthou jy toe ek en jy langs mekaar agter sy pa Agab aangery het hoe die Here hierdie oordeel oor hom aangekondig het?

26. Die Here het toe gesê: ‘So seker as Ek die vergieting van die bloed van Nabot en van sy seuns gister gesien het, sal Ek jou daarvoor vergelding laat doen op hierdie selfde stuk grond.’ Vat hom nou en gooi hom op dié stuk grond, net soos die Here gesê het.”

27. Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, het hy in die rigting van Bet-Gan gevlug. Jehu het hom agtervolg en opdrag gegee: “Skiet hom ook!” Op die hoogte van Gur, by Jibleam, het hulle hom op sy wa raakgeskiet. Hy het nog tot by Megiddo gevlug, maar daar het hy gesterf.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 9