Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 5:18-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Daar is net een ding wat die Here my asseblief sal moet vergewe: as my koning na die tempel van Rimmon toe kom om te aanbid, en ek hom moet vergesel, en ek dan in die tempel van Rimmon aanbid wanneer hy daar aanbid, mag die Here my dit vergewe!”

19. Elisa het van Naäman afskeid geneem, maar toe hy 'n ent weg was,

20. het Gehasi, die slaaf van Elisa die man van God, vir homself gesê: “Meneer het hierdie Arameër Naäman laat wegkom sonder om iets te aanvaar van alles wat hy gebring het. So seker as die Here leef, ek gaan agter hom aan hardloop en ek sal iets van hom aanvaar.”

21. Gehasi is agter Naäman aan. Toe Naäman hom agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa af afgespring, hom tegemoet gegaan en gevra: “Wat is verkeerd?”

22. “Niks nie,” het hy geantwoord. “Die profeet het my gestuur om te sê: Daar het nou net twee jongmanne van die profetegemeenskap hier aangekom van die Efraimsberge af, en sal u nie asseblief vir hulle vier en dertig kilogram silwer en twee stelle klere gee nie.”

23. Naäman het gesê: “Wees so vriendelik om ag en sestig kilogram te aanvaar.”Hy het by hom daarop aangedring, die ag en sestig kilogram silwer in twee geldsakke toegebind en dit saam met die twee stelle klere aan twee van sy slawe gegee om dit voor Gehasi uit te dra.

24. Toe hy by Die Bult kom, het hy dit by hulle gevat en in sy kamer gaan wegsteek. Toe hy die manne laat gaan het en hulle daar weg is,

25. en hy inkom en by die profeet gaan staan, vra Elisa vir hom: “Waar kom jy vandaan, Gehasi?”Hy het geantwoord: “Ek was nêrens heen nie.”

26. Hy sê toe vir hom: “Was ek nie in die gees by jou toe iemand van sy wa af omgedraai het om jou tegemoet te gaan nie? Moes jy dié geleentheid aangryp om silwer en klere in die hande te kry, of olyfboorde en wingerde, kleinvee en grootvee, slawe en slavinne?

27. Die melaatsheid waarmee Naäman aangetas was, sal vir altyd aan jou en jou nageslag sit.”Toe hy van Elisa af weggaan, was hy klaar melaats, wit soos sneeu.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 5