Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 4:35-44 Afrikaans 1983 (AFR83)

35. Nadat hy 'n keer heen en weer in die huis geloop het, het hy weer op hom gaan lê. Die seun het sewe keer genies en toe sy oë oopgemaak.

36. Elisa het vir Gehasi geroep en hom beveel om die Sunemmitiese vrou te roep. Hy het dit gedoen en toe sy inkom, sê Elisa vir haar: “Tel jou seun op.”

37. Sy het ingekom en by sy voete op haar knieë geval en gebuig. Toe tel sy haar kind op en gaan uit.

38. Elisa is terug Gilgal toe. Daar was in dié tyd 'n hongersnood in die land. Terwyl die profete aan sy voete gesit het, sê hy vir sy slaaf: “Sit 'n groot pot op die vuur en kook 'n bredie vir die profete.”

39. Een van hulle is veld toe om te gaan kruie pluk. Hy het op wilde ranke afgekom en wildekomkommers daarvan afgepluk tot sy sakke vol was. Hy het dit in die pot met bredie gaan insny sonder om te weet wat dit regtig was.

40. Hulle het met ete vir die manne van die bredie opgeskep, maar net toe hulle dit proe, roep hulle uit: “Man van God, daar is gif in die kos!” Hulle kon dit nie eet nie.

41. Elisa het gesê: “Bring 'n bietjie meel.”Hy het dit in die pot gegooi en gesê: “Skep op vir die mense dat hulle kan eet.”Die kos in die pot was toe nie meer giftig nie.

42. Daar het 'n man uit Baäl-Salisa aangekom wat vir die man van God brood gebring het, twintig garsbrode gebak met meel van die nuwe oes, en ook vars koringare.Elisa het gesê: “Gee dit vir die mense om te eet.”

43. Maar sy slaaf het beswaar gemaak: “Hoe kan ek die bietjie kos aan 'n honderd man voorsit?”Maar Elisa het weer gesê: “Gee dit vir die mense om te eet, want so sê die Here: Hulle sal eet en nog oorhou.”

44. Die slaaf het dit vir hulle voorgesit. Hulle het geëet en oorgehou, net soos die Here gesê het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 4