Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 20:10-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Hiskia sê toe: “Dit is maklik vir die skaduwee om tien trappe vorentoe te skuif. Nee, laat dit tien trappe terugkom.”

11. Die profeet Jesaja het die Here aangeroep, en Hy het die skaduwee wat reeds teen die trap van Agas afgesak het, tien trappe laat terugskuif.

12. In dié tyd het koning Merodak-Baladan van Babel, seun van Baladan, briewe en geskenke na Hiskia toe gestuur omdat hy gehoor het van Hiskia se siekte.

13. Hiskia het die gesante te woord gestaan en hulle daarna al sy skatkamers gewys met die silwer, die goud, die kruie en die geurige olie, sy wapenkamer en alles wat in sy voorraadkamers was. Daar was niks in sy paleis en in sy koninkryk wat Hiskia die gesante nie laat sien het nie.

14. Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskia toe en vra vir hom: “Wat het daardie mense gesê en waarvandaan kom hulle?”Hiskia het geantwoord: “Uit 'n ver land, uit Babel.”

15. “Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja.En Hiskia antwoord: “Hulle het alles gesien wat in my paleis is. Daar is niks van my skatte wat hulle nie gesien het nie.”

16. Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Luister wat sê die Here:

17. Daar kom 'n tyd dat alles wat in jou paleis is, weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy versamel het. Daar sal niks oorbly nie, sê die Here.

18. Van jou eie seuns wat uit jou gebore is, sal gevat word, en hulle sal diens doen in die paleis van die koning van Babel.”

19. Hiskia het vir Jesaja gesê: “Die woord van die Here wat jy aan my oorgedra het, is goed.” Hiskia het bygevoeg: “As daar maar net in my tyd vrede en veiligheid is!”

20. Die ander verhale oor Hiskia, oor sy moedige optrede en oor die dam en die kanaal wat hy gebou het om die water in die stad in te bring, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

21. Hiskia is oorlede, en sy seun Manasse het hom as koning opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 20