Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:29-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

29. So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie uit my mag red nie.

30. En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hy sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’

31. Moenie na Hiskia luister nie, want só sê die koning van Assirië: Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink

32. tot ek kom en julle wegvat na 'n land toe net soos julle land. Dit is 'n land met koring en wyn, 'n land met kos en wingerde, 'n land met olyfolie en heuning. Dan sal julle lewe, julle sal nie sterwe nie. Moenie na Hiskia luister nie. Hy bedrieg julle as hy sê die Here sal julle red.

33. Kon die gode van die ander nasies hulle lande red uit die mag van die koning van Assirië?

34. Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Kon hulle Samaria uit my mag bevry?

35. Wie van al die gode van die ander lande kon sy land uit my mag red? Dan sal die Here mos nie Jerusalem uit my mag kan red nie!”

36. Die manskappe het stilgebly en nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om nie te antwoord nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18