Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:27-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

27. Toe het die koning van Assirië opdrag gegee dat hulle een van die priesters wat uit Israel weggevoer is, soontoe moet bring. Hy het soontoe gegaan en daar gaan woon om hulle die regte verering van die God van die land te leer.

28. So het een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is, teruggekom en in Bet-El gaan bly, en hy het hulle geleer hoe hulle die Here moet vereer.

29. Tog het elke nasie nog maar sy eie afgodsbeelde gemaak en dit gaan neersit in die tempels op die hoogtes wat deur die mense van Samaria gebou is, elke nasie in die stede waar hy gewoon het.

30. Die mense van Babel het vir Sukkot-Benot gemaak, die mense van Kuta vir Nergal, die mense van Hamat vir Asima,

31. die Awwiete vir Nibgas en Tartak. Die Sefarwajiete het hulle seuns verbrand ter ere van Adrammelek en Anammelek, die gode van Sefarwajim.

32. Terselfdertyd het hulle die Here vereer en uit hulle eie geledere priesters vir die hoogtes aangewys om vir hulle diens te doen in die heiligdomme op die hoogtes.

33. Hulle het die Here vereer en ook hulle eie gode gedien volgens die gebruik van die heidennasies waaruit hulle weggevoer is.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17