Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In die twaalfde regeringsjaar van koning Agas van Juda het Hosea seun van Ela koning geword en hy het nege jaar in Samaria oor Israel geregeer.

2. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar hy was nie so erg soos die konings van Israel voor hom nie.

3. Toe koning Salmaneser van Assirië teen hom opgeruk het, het hy hom aan die koning van Assirië onderwerp en aan hom belasting betaal.

4. Die koning van Assirië het uitgevind dat Hosea teen hom saamsweer deurdat hy gesante na koning So van Egipte gestuur het en nie die jaarlikse belasting aan die koning van Assirië betaal het nie. Daarom het hy vir Hosea laat vang en hom in die tronk opgesluit,

5. die hele land binnegeval en opgeruk na Samaria toe wat hy drie jaar lank beleër het.

6. In die negende regeringsjaar van Hosea het die koning van Assirië Samaria ingeneem en het hy die Israeliete na Assirië toe weggevoer. Sommige het hy in die stad Galag gevestig, ander aan die Gaborrivier in Gosan, en in die stede van Medië.

7. Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen die Here hulle God wat hulle uit Egipte laat wegtrek het, onder die mag uit van die farao, koning van Egipte. Maar hulle het ander gode vereer

8. en geleef volgens die gebruike van die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak, gebruike wat deur die konings van Israel nagevolg is.

9. Die Israeliete het die Here hulle God dinge toegedig wat nie waar is nie en toe vir hulle hoogtes gebou oral waar hulle gewoon het, van plekke af waar net 'n wagtoring was, tot in die vestingstede.

10. Hulle het klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë rant en onder elke groen boom.

11. Op elke hoogte het hulle wierookoffers gebring net soos die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. Met die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, het hulle die Here uitgetart.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17