Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 14:14-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Hy het al die goud en silwer gevat en al die ander goed wat hy in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis kon kry, en dit saam met gyselaars na Samaria toe gebring.

15. Die ander verhale oor Joas en wat hy gedoen het, sy dapperheid en hoe hy teen koning Amasia van Juda geveg het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

16. Joas is oorlede, en hy is begrawe in Samaria by die ander konings van Israel. Sy seun Jerobeam het hom as koning opgevolg.

17. Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar geleef.

18. Die ander verhale oor Amasia is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

19. Toe hulle in Jerusalem teen hom saamgesweer het, het hy na Lakis toe gevlug, maar hulle het mense agter hom aan gestuur daarheen, en hulle het hom daar doodgemaak.

20. Hulle het sy lyk met perde teruggebring, en hy is begrawe in sy familiegraf in die Dawidstad.

21. Die hele Judese volk het vir Asarja gevat en hom in die plek van Amasia, sy pa, koning gemaak. Hy was toe sestien jaar oud

22. en het Elat herbou en onder die gesag van Juda teruggebring nadat die koning van daardie gebied dood is.

23. In die vyftiende regeringsjaar van koning Amasia van Juda, seun van Joas, het Jerobeam seun van koning Joas van Israel op die troon gekom. Hy het een en veertig jaar in Samaria oor Israel geregeer

24. en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

25. Hy het die grense van Israel herstel, van Lebo-Hamat af tot by die see in die Jordaanvallei. Dit was in ooreenstemming met wat die Here die God van Israel gesê het deur sy dienaar Jona seun van Amittai, die profeet uit Gat-Gefer.

26. Die Here het die bittere ellende van Israel raakgesien: Israel was volkome weerloos en sonder enige helper.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 14