Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 14:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In die tweede regeringsjaar van koning Joas van Israel, seun van Joahas, het Amasia seun van koning Joas van Juda op die troon gekom.

2. Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jehoaddan, uit Jerusalem.

3. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie heeltemal soos sy voorvader Dawid gedoen het nie; hy het alles gedoen wat Joas, sy pa, gedoen het.

4. Hy het net nie van die hoogtes ontslae geraak nie: die volk het nog diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes.

5. Nadat hy goed gevestig was in sy koningskap, het hy die amptenare laat doodmaak deur wie sy pa, die koning, vermoor is.

6. Hy het nie die kinders van die moordenaars ook laat doodmaak nie, soos dit op bevel van die Here geskrywe staan in die wetboek van Moses: “Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.”

7. Hy het tien duisend Edomiete in die Soutvlakte verslaan en Sela in die oorlog verower en dit Jokteël genoem, soos dit vandag nog bekend staan.

8. Amasia het 'n boodskap gestuur na koning Joas van Israel, seun van Joahas, seun van Jehu: “Kom ons veg teen mekaar.”

9. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda terug laat weet: “Die doringbos op die Libanon laat weet vir die seder op die Libanon: ‘Laat jou dogter met my seun trou,’ en toe kom die wilde diere van die Libanon verby en trap die doringbos plat.

10. Noudat jy Edom 'n groot neerlaag toegedien het, soek jy meer roem. Bly liewer by die huis. Waarom wil jy jou in die ongeluk stort en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?”

11. Koning Amasia van Juda het nie geluister nie. Hy het teen koning Joas van Israel opgetrek en in Bet-Semes in Juda het hulle slaags geraak.

12. Juda het 'n neerlaag gely teen Israel, en die manskappe het op die vlug geslaan, elkeen na sy huis toe.

13. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda, seun van Joas seun van Ahasia, gevange geneem in Bet-Semes.Toe Joas in Jerusalem kom, het hy 'n stuk muur van Jerusalem laat afbreek van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort, honderd en tagtig meter.

14. Hy het al die goud en silwer gevat en al die ander goed wat hy in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis kon kry, en dit saam met gyselaars na Samaria toe gebring.

15. Die ander verhale oor Joas en wat hy gedoen het, sy dapperheid en hoe hy teen koning Amasia van Juda geveg het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

16. Joas is oorlede, en hy is begrawe in Samaria by die ander konings van Israel. Sy seun Jerobeam het hom as koning opgevolg.

17. Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar geleef.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 14