Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 12:5-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Die priesters moet die geld in ontvangs neem by dié wat dit bring, en die tempel daarmee herstel, oral waar daar bouvallige plekke is.”

6. In die drie en twintigste regeringsjaar van koning Joas het die priesters die bouvallige plekke in die tempel nog steeds nie herstel gehad nie.

7. Toe het koning Joas vir Jojada en die ander priesters ingeroep en vir hulle gevra: “Waarom herstel julle nie die bouvallige plekke in die tempel nie? Julle moenie geld aanvaar van dié wat dit bring, as julle nie daarmee vir die herstel van die bouvallige plekke betaal nie.”

8. Die priesters het toe onderneem om nie langer geld van die volk te aanvaar solank hulle nie die bouvallige plekke herstel nie.

9. Die priester Jojada het 'n kis gevat, 'n gat in die deksel geboor en dit langs die altaar neergesit, regs van waar 'n mens die huis van die Here binnekom. Die priesters wat by die drumpel wag gestaan het, het al die geld wat na die huis van die Here toe gebring is, daarin gegooi.

10. Toe hulle sien dat daar baie geld in die kis is, het die sekretaris van die koning saam met die hoëpriester na die tempel toe gegaan en die geld wat in die huis van die Here was, in 'n sak gesit en gaan tel.

11. Hulle het die afgetelde geld oorbetaal aan die werksvoormanne wat vir die huis van die Here aangestel is. Dié het dit oorbetaal aan die skrynwerkers en bouers wat die werk aan die huis van die Here moes uitvoer,

12. so ook aan die messelaars en die klipkappers, om hout en gekapte klip te koop om die herstelwerk aan die huis van die Here te doen, kortom, om alle uitgawes aan die herstel van die tempel te dek.

13. Daar is geen silwerbakke, skêre, komme of trompette gemaak vir die huis van die Here nie; geen silwer- of goue gereedskap is gemaak van die geld wat na die huis van die Here toe gebring is nie.

14. Dit moes aan die voormanne gegee word om die huis van die Here te herstel.

15. Hulle het nie die manne laat boekhou van die geld wat hulle aan hulle betaal het nie. Dit is aan die voormanne gegee wat die werk eerlik uitgevoer het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 12