Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 12:10-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Toe hulle sien dat daar baie geld in die kis is, het die sekretaris van die koning saam met die hoëpriester na die tempel toe gegaan en die geld wat in die huis van die Here was, in 'n sak gesit en gaan tel.

11. Hulle het die afgetelde geld oorbetaal aan die werksvoormanne wat vir die huis van die Here aangestel is. Dié het dit oorbetaal aan die skrynwerkers en bouers wat die werk aan die huis van die Here moes uitvoer,

12. so ook aan die messelaars en die klipkappers, om hout en gekapte klip te koop om die herstelwerk aan die huis van die Here te doen, kortom, om alle uitgawes aan die herstel van die tempel te dek.

13. Daar is geen silwerbakke, skêre, komme of trompette gemaak vir die huis van die Here nie; geen silwer- of goue gereedskap is gemaak van die geld wat na die huis van die Here toe gebring is nie.

14. Dit moes aan die voormanne gegee word om die huis van die Here te herstel.

15. Hulle het nie die manne laat boekhou van die geld wat hulle aan hulle betaal het nie. Dit is aan die voormanne gegee wat die werk eerlik uitgevoer het.

16. Die geld vir skuldoffers en sondeoffers is nie in die huis van die Here gebring nie; dit was vir die priesters bestem.

17. Destyds het koning Gasael van Aram na Gat toe opgeruk, dit aangeval en ingeneem. Hierna het hy na Jerusalem toe koers gekies om dit te gaan aanval.

18. Koning Joas van Juda het al die gewyde gawes wat deur sy voorvaders Josafat, Joram en Ahasia, konings van Juda, gebring is, gevat en aan koning Gasael van Aram gestuur saam met sy eie gewyde gawes en al die goud wat in die skatkamers van die huis van die Here en in die paleis te vinde was. Toe het Gasael van Jerusalem af teruggetrek.

19. Die ander verhale oor Joas en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

20. Sy amptenare het teen hom in opstand gekom en teen hom saamgesweer. Hulle het vir Joas doodgemaak by Bet-Millo waar 'n mens afgaan na Silla toe.

21. Dit was sy amptenare Sabad seun van Simat en Josabad seun van Somer wat hom doodgemaak het. Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Amasia het hom as koning opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 12