Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 11:11-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Die hardlopers het elkeen met sy wapen in die hand om die koning gaan staan, naby die altaar en die tempel, van die suidekant tot by die noordekant van die tempel.

12. Toe het Jojada die jong koning vorentoe laat kom, hom gekroon en die koninklike volmag aan hom oorhandig. So het hulle hom koning gemaak. Hulle het hom gesalf, hande geklap en geroep: “Lank lewe die koning!”

13. Atalia het die uitroepe van die hardlopers en die volk gehoor en het ook na die huis van die Here toe gegaan waar die volk bymekaar was.

14. Daar sien sy toe die koning op sy plek staan soos die gebruik was, met die volksleiers en trompetblasers by hom en al die burgers van die land wat juig en trompette blaas. Toe skeur Atalia haar klere en skreeu: “Verraad, verraad!”

15. Die priester Jojada beveel toe die bevelhebbers oor honderd wat in beheer van die manskappe was: “Bring haar tussen julle uit en maak elkeen dood wat agter haar aankom.”Die priester het gesê: “Sy mag nie in die huis van die Here doodgemaak word nie.”

16. Hulle het haar gegryp en haar deur die Perdepoort na die paleis toe gevat en haar daar doodgemaak.

17. Toe het Jojada 'n verbond gesluit tussen die Here, die koning en die volk, dat hulle die volk van die Here sou wees. Hy het ook tussen die koning en die volk 'n verbond tot stand laat kom.

18. Daarna het al die burgers van die land na die Baälstempel toe gegaan en dit verwoes. Hulle het die altare en die beelde stukkend geslaan en vir Mattan, die Baälspriester, by die altare doodgeslaan. Die priester Jojada het opsigters oor die huis van die Here aangestel.

19. Hy het die bevelhebbers oor honderd, die Kariërs, die hardlopers en al die burgers van die land geneem om die koning van die huis van die Here af deur die Hardloperspoort na die paleis toe te bring. Daar het die koning op die troon gaan sit.

20. Al die burgers van die land was bly. Die stad was weer rustig. Hulle het vir Atalia in die paleis doodgemaak.

21. Joas was sewe jaar toe hy koning geword het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 11