Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10:6-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Toe skryf hy vir hulle 'n tweede brief: “As julle ten gunste van my is en aan my gehoorsaam wil wees, bring die koppe van die prinse môre hierdie tyd na my toe in Jisreël.”Die sewentig prinse was elkeen tuis by 'n vooraanstaande persoon van die stad wat hulle moes grootmaak.

7. Toe die brief by die leiers kom, het hulle die prinse gevat en al sewentig doodgemaak en hulle koppe in mandjies na Jehu toe in Jisreël gestuur.

8. Die boodskapper het kom rapporteer: “Hulle het die koppe van die prinse gebring.”Jehu het gesê: “Sit hulle tot môreoggend in twee hope neer by die ingang van die poort.”

9. Die volgende môre het hy uitgegaan, daar gaan staan, en vir al die mense daar gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ek wat teen die koning saamgesweer en hom vermoor het, maar wie het al hierdie mense doodgemaak?

10. Erken dan dat nie 'n enkele ding wat die Here oor die huis van Agab gesê het, onvervul sal bly nie. Die Here het alles gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia gesê het.”

11. Jehu het almal doodgemaak wat nog van die koningshuis van Agab in Jisreël oor was: al die vooraanstaandes, vertrouelinge, selfs priesters; hy het nie een laat wegkom nie.

12. Jehu het klaargemaak en na Samaria toe vertrek. Langs die pad by Bet-Eked-Roïm

13. het hy die broers van koning Ahasia van Juda teëgekom. “Wie is julle?” het hy gevra.“Ons is Ahasia se broers,” het hulle geantwoord, “ons gaan kyk hoe gaan dit met die prinse en die koning se ma.”

14. Jehu het beveel: “Vang hulle.”Hulle het hulle gevang en hulle doodgemaak by die put van Bet-Eked, altesaam twee en veertig; hy het nie een van hulle laat oorbly nie.

15. Toe hy daar weg is, kom hy vir Jonadab seun van Rekab op die pad teë. Nadat hy hom gegroet het, vra hy vir hom: “Kan ek op jou reken soos jy op my?”Jonadab het geantwoord: “Ja.”“As dit ja is,” sê Jehu, “gee my jou hand.”Hulle het mekaar die hand gegee en Jehu het hom by hom op die wa laat klim.

16. Jehu het gesê: “Kom saam met my, dan sal jy my ywer vir die Here sien.” Jehu het hom saam met hom laat ry,

17. en toe Jehu in Samaria kom, het hy almal van Agab wat nog in Samaria oor was, doodgemaak; hy het tot die laaste een toe om die lewe gebring, soos die Here vir Elia gesê het.

18. Jehu het die hele volk bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Agab het vir Baäl maar net 'n bietjie gedien, maar ek wat Jehu is, gaan hom baie meer dien.

19. Roep nou al die profete van Baäl na my toe, al sy vereerders en al sy priesters. Nie een mag wegbly nie, want ek wil 'n groot offer aan Baäl bring. Nie een wat wegbly, sal bly leef nie.”Jehu het dit met lis beplan om die vereerders van Baäl te kan vernietig.

20. Jehu het beveel: “Sonder vir Baäl 'n feesdag af.”So 'n feesdag is uitgeroep,

21. en Jehu het oral in Israel boodskappers gestuur, sodat al die vereerders van Baäl gekom het; daar was nie 'n enkele wat nie gekom het nie. Hulle het in die tempel van Baäl ingegaan, sodat die tempel naderhand van hoek tot kant vol was.

22. Aan die persoon wat oor die klerekamer toesig gehou het, het hy gesê: “Bring klere vir al die vereerders van Baäl.”Hy het vir hulle die klere gebring.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 10